Kindergesiggies van bekendes het my laat terugdink aan my eie eerste skooljare. My helder herinnerings is nie aan groot of belangrike gebeure nie, eerder aan klein oomblikke.

Ek staan op die skoolterrein en kyk hoe ’n ouer meisie uit ’n fontein water drink. Ek konsentreer en druk hard met my potlood en kyk met bevrediging hoe ek die eerste keer die letter “B” tussen twee lyne skryf.

Agter in die klas sit ’n seuntjie wat vir my mooi is – hy het wit hare en blou oë en steur hom niks aan my nie.

Ek werk aan ’n taak oor dolfyne.

Ek en my boetie grawe twee eiers op uit die sand buite ons huis en skrik toe ’n akkedissie uit een glip.

Ek gaan speel ná skool by ’n maatjie en haar ma skroef ’n blik oop en skep rooi konfyt oor ons broodjies.

Hoekom sou ek hierdie dinge onthou; hoekom is dit vir my vertroostend om daaraan te dink?

Vanjaar begin my oudste met gr. 1 – met daardie klein skoolskoentjies gee hy nou sy eerste treë na grootword.

Ons is nog in die kindertreë van 2019, maar ook hierdie jaar sal in ’n oogwink verbyflits.

Eendag sal ons iets daarvan onthou – waarskynlik daardie klein oomblikke wat net vir jou alles is.