Die skoksyfers het bly styg: Wêreldwyd het ál meer mense positief getoets vir die virus, en ál meer mense het gesterf.

Miljoene mense is in lande soos China en Italië onder kwarantyn geplaas om die verspreiding van die aansteeklike virus te probeer hokslaan, skole en universiteite is in sommige lande gesluit en geleenthede afgestel, en ekonome het gewaarsku die wêreldekonomie kan ’n groot knou kry.

Baie mense het paniekerig gevoel; ander het met paaiwoorde en vergelykings probeer om perspektief te skep. Hier in Suid-Afrika het ’n handvol mense teen druktyd positief getoetsvir COVID-19, en die eerste pasiënt wat daarmee gediagnoseer is, was reeds op die herstelpad.

Bly kalm, het dokters en die owerhede gemaan. Dit is moeilik om te voorspel hoe die wêreld geraak sal word wanneer die onsigbare kragte van die natuurwêreld saamspan.

Dinge soos klimaatsveranderings of ’n virus kan ’n groter chaos laat uitkring as enige van die dinge waaroor ons soms snags wakker lê.

Dit beteken natuurlik nie ons moet angstig voel oor dinge waaroor ons nie aldag beheer het nie. Daarby sal niemand baat vind nie; dit is verspilde energie.

Dit herinner ons eerder: Ons moet respek hê vir die aarde en vir mekaar. Sorg vir die aarde en vir mekaar.

Tydelike kwarantyn is dalk een ding, maar nie een van ons leef in isolasie nie – die aarde én die mensdom is weerloos, en ons is almal van mekaar afhanklik.