Ek het die gebeure van die geskiedenis die eerste keer in swart-wit foto’s in die boeke in ons huis teëgekom.

Jong soldate wat slapend in loopgrawe lê, ’n wolk soos ’n sampioen, ’n dogtertjie skaars ouer as ek wat voor napalm vlug.

Verwoeste stede, verlate huise, verhongerde mense. Dekade ná dekade van ondenkbare dinge.

Later was daar ’n foto, toe met kleur, van ’n enkele figuur voor vier aankomende tenks. Dis in 1989 geneem tydens ’n studenteoptog in 1989 in Tiananmen Square in Beijing en ek het daarna gekyk en gekyk.

Nou nog wanneer ek na daardie foto kyk, roer dit iets in my.

Soms wanneer ek dink aan al die wonderlike ervarings wat my kinders nog gaan ontdek – die boeke, die musiek, die mense – dink ek ook aan alles wat hulle nog moet uitvind, aan “what it meant, and what it took, to survive the twentieth century”, soos die skrywer Adam Kirsch onlangs geskryf het in ’n artikel in The New Yorker.

En dan wonder ek: Hoe moet ek hulle leer van gelyk onthou en vorentoe mik? Van terugkyk om te verstaan sonder om verstrik te raak in die verlede? En wat sal hulle dink van die foto’s uit hul ma se tyd?