Hy was my pa se vriend, oom Louis.

Kleintyd het ons een Sondag op sy kleinhoewe in Muldersdrift buite Johannesburg gaan kuier. Dit was winter en die eindstryd van Wimbledon.

Ek was ses jaar oud op daardie Sondag in 1986, en ek onthou net flitsoomblikke van die middag op die hoewe met die unieke naam Villably: die witgekalkte muur van die opstal; granate aan ’n boom, glasbotteltjies op ’n vensterbank, en Ivan Lendl wat teen Boris Becker verloor: 4-6, 3-6, 5-7.

Ek het nóg herinneringe aan oom Louis, want hy was een van my pa se oudste vriende. Hulle het mekaar ontmoet toe my pa as jong man – veel jonger as wat ek nou is – in die vroeë 1980's Johannesburg toe getrek het om daar by Simba te begin werk.

Oom Louis kon soms lekker irriterend wees. Hy was ’n man wat reguit gepraat het. Op my troue het hy vir my ma gesê: “Jy lyk mooier as jou hare kort gesny is.”

Ek het my vervies: Ag, oom Louis.

Hy was altyd doenig met nog ’n scheme. Dikwels om ander mense te help. Sy hart was groot en hy was oopkop en liberaal lank voor baie van sy tydgenote die verskriklike vooroordele van hul tyd laat vaar het.

Eenmaal het ek hom in Johannesburg vir koffie ontmoet om te gesels oor ’n nuwe boek wat hy wou uitgee. “Ken jy vir Jesus?” het hy die gesprek begin.

En kyk wie speel daar in die hoek kitaar, het hy gesê. Dit was een van sy twee aangenome seuns. Hy’t ge-double up op die ontmoeting: met my kom brainstorm oor sy boek terwyl hy sy seun kom ondersteun. Dié dat hy gevra het ons moet in die obskure klein koffiewinkel in Rosebank ontmoet.

Ek het sy seuns ontmoet toe hulle nog klein was – Tebo en Lebo. Hy was trots op hulle – trots en besorg. Altyd vertel waarmee albei doenig was, ook nadat hulle grootgeword het.

In die tyd voor oom Louis en sy vrou, Gretchen, hulle aangeneem het, was ons een naweek saam wildtuin toe. Ons het op pad soontoe een van daardie kameelperde gesny uit hout gekoop, en die kameelperd het jare lank in my kamer gestaan.

Daardie naweek het Gretschen die tydskrifte Architectural Digest en Gourmet gelees. Ek onthou daar was ’n pienk nagereg op die Gourmet se voorblad – hoekom onthou ek dit?

Oom Louis het gepraat en gesels en gepraat en vertel – altyd vol stukke en streke en stories.

“Vonnie!” sou hy sy e-posse in latere jare aan my begin. En dan altyd vra vir ’n kontaknommer van iemand met wie hy wou gesels. Al dié mense het hy dan oorrompel met sy sjarme en entoesiasme en idees en chutzpah.

Op sy twee kinders Mia en Len was hy net so trots. Sy oë het geblink oor sy nageslag.

Oom Louis het baie dinge in sy lewe gedoen. Hy het as bemarker die Nik Naks-mannetjie vir Simba ontwikkel en ontwerp.

Hy het altyd vertel hy was die een wat die saadjie geplant het vir die frase die “nuwe Suid-Afrika”. Hy was vriende met mense in hoë plekke – agter die skerms doenig met idees en schemes.

Later het hy kinderboeke en motiveringsboeke geskryf en sy geloof verkondig. Diep gelowig was hy, oom Louis.

Ek het my soms vir hom vervies, want hy wou dikwels hê ek moet die een of ander gesprek tussen hom en iemand anders fasiliteer. Sy e-posse was vol woorde in hoofletters en kleure – ’n reënboog van vreugde en geesdrif op my rekenaarskerm.

So twee of drie jaar gelede het ek een middag by my pa se huis ingestap toe hy op die stoep gesit en kuier het.

“Hoe gaan dit met jou ma?” het hy gevra. Hy was lief vir haar, al het hy haar jare tevore laas gesien.

Dit was die laaste keer wat ek hom gesien het.

Ek onthou die sketse wat hy gemaak het van ons destydse strandhuis by die see – ’n klein hout huisie teen ’n sandduin. Soms het oom Louis en tannie Gretchen op hul eie daar gaan kuier. Hy sou skilder en sy sou lees.

Ná die tyd het hy altyd vir my pa ’n briefie geskryf wat vertel hoe die weer was, en wat vriendskap vir hom beteken.

Hy was een van my pa se oudste vriende; oom Louis. Hulle was byna 40 jaar vriende voor oom Louis op Maandag 30 Maart oorlede is.

Piet en Louis.
Piet en Louis.

Hy was een van die eerste mense wat in Suid-Afrika gesterf het nadat hulle positief getoets het vir die coronavirus, het sy familie laat weet.

Nog ’n slagoffer van die grootste pandemie in ons onlangse geskiedenis. Hy het longontsteking gehad en het verlede week positief getoets vir die virus.

Ek sien hom wanneer ek die statstieke nou in nuusberigte sien; ek sien hom in die syfers.

Maar hy was nie net die jongste syfer in ’n reeks statistieke nie, hy was oom Louis. My pa se vriend, ’n man met ’n vol lewe van baie jare en baie stories.

Hy is moontlik met die virus geïnfekteer op ’n plaaslike vlug, vermoed sy familie.

Daardie dag, toe hy op die vliegtuig geklim het, sou nie hy of enigiemand anders kon dink hy sou sowat twee weke later sterf nadat hy enkele dae tevore in die hoësorgeenheid van ’n Johannesburgse hospitaal opgeneem is nie.

Niemand sou kon dink oom Louis sal ooit sterf nie.

Want in die lewe is die dood ondenkbaar.

Een eers met die dood besef ’n mens: Daar was net een soos hy.

Een soos hy, een soos jy, een soos ek.

Die coronavirus het nie respek vir die lewe – vir ons elkeen se een, kosbare lewe – nie. Dit is ’n virus; ’n nare, wrede werklikheid wat verlies en vernietiging in sy spoor laat. En die enigste manier om die verspreiding van die virus te keer, is om nou tuis te bly en die owerhede se maatreëls te volg al beteken dit ’n swaar, moeilike pad lê vir ons land en sy mense voor.

Wanneer die tyd van die coronavirus eindelik agter ons lê, sal ons mekaar moet help om op te staan uit die ruïnes van die uitgestrekte landskap van puin wat agterbly. Die ekonomie sal op sy knieë wees – mense sonder werk, mense sonder ’n inkomste. Swaarkry sal veelvuldig in hierdie land van ons vermeerder.

Sê vir die mense hulle moet dankbaar wees vir wat hulle het, en mooi na mekaar kyk.

Maar lockdown is die enigste manier om die verspreiding van die virus te beperk – ons móét leer leef in ons nuwe werklikheid. En daarna moet ons mekaar help om weer te begin bou aan die toekoms wat ons so graag vir mekaar wil skep.

Louis Wilsenach is nie net ’n statistiek of ’n naam op ’n lys nie. Al is hy Suid-Afrika se volgende slagoffer van COVID-19, die volgende slagoffer van ’n virus wat oor grense heen seer en swaarkry saai, was hy ook ’n man van vlees en bloed.

’n Man wie se lewe te gou kortgeknip is deur iets wat ons almal nou bedreig. ’n Man wat, as hy nog geleef het, nou in hoofletters en kleure vir my sou skryf: “Vonnie! Sê vir die mense hulle moet dankbaar wees vir wat hulle het, en mooi na mekaar kyk.”    

  • Die Departement van Gesondheid kon nie bevestig dat Louis Wilsenach weens die siekte Covid-19 oorlede is nie, maar sy familie het bevestig dat hy voor sy dood positief getoets het vir die coronavirus.

Yvonne Beyers
Huisgenoot
-redakteur