“Sjoe,” het my ma diplomaties sonder voorskrif of oordeel gesê. In die jare daarna het ek geëet net wat ek wil en dit diep berou elke keer wanneer my jeans skielik te styf sit of verlede somer se rokkie nie meer pas nie.

Het ek eintlik geweet hoe om weer op koers te kom en my eetpatroon reg te ruk? Ja. Groente en slaai en hoender en vis is immers al jare lank ’n eenvoudige antwoord.

Het ek my daaraan gesteur? Nee.

Het ek dikwels ’n tweede bord geskep? Ja.

Porsiebeheer toegepas? Nee.

Vandag, voor die skryf van dié brief, iets gesonds vir middagete geëet? Helaas nie.

Maar nou word ek binnekort 40 en ek wil my middeljare gesond binnegaan.

Suiker verbied; pasta verban. Is ’n tweede stuk roosterbrood wérklik nodig?

Ek wil lankal nie meer maer word nie – that ship has sailed – ek wil net mooi sorg vir hierdie liggaam wat my nog hopelik tot anderkant 80 sal dra.

Hier by Huisgenoot het ons onlangs twee aanlyn dieet- en oefenprogramme bekendgestel: Klop die skaal vir vroue, en Groet jou boep vir mans.

Dit kos R495 vir ’n 12-weke-plan, en dis gemik daarop om jou te help om daardie onnodige kilo’s af te skud wanneer jy ’n gesonde leefstyl aanpak.

Miskien sal dit my 40ste verjaardagpresent aan myself wees – dít en ’n groot stuk koek.