Daar is ’n magiese oomblik net voor ’n huis se mense op Kersdag wakker word. As ek eerste op is, stap ek saggies deur die huis en luister na daardie spesifieke soort stilte wat kom uit kamers waarin mense slaap. Agter elke toe deur slaap iemand vir wie ek lief is.

Daar is iets in die lug, ’n soort blymoedige afwagting.

Dan bring die dag sy geluide: My oudste broer spring in sy bakkie om te gaan surf; die jongste maak keel skoon voor hy sy strekoefeninge begin doen.

My ma se pantoffels skuif oor die houtvloer kombuis toe wanneer sy gaan muesli inskep. Twee paar voetjies hardloop in die gang af en dan klink twee seuntjiestemme by die Kersboom op.

Die ketel kook; my man maak koffie.

Die dag begin – dit is Kersfees.

Vir my is daardie oomblik voor almal opstaan soos ’n geskenk toegedraai in goud en versier met vrede.

In daardie oomblik is my gedagtes nie by die jaar wat was of die jaar wat kom nie; dis nie by presente of joligheid nie.

Ek word stil, en ek kyk na die oggendlig teen die blare van die boom waarin voëls elke jaar nuwe neste maak, en ek dink: Dankie.

  • Kontak my by redakteur@huisgenoot.com.
  • Huisgenoot onderskryf die Suid-Afrikaanse Perskode wat ons verbind tot joernalistiek wat waar, akkuraat, regverdig en gebalanseerd is.
  • As jy meen ons kom nie die kode na nie, kontak die Persombudsman by 011-484-3618 of pressombudsman@ombudsman.org.za