Kort voor sakdag, die naweek ná die première, vertel ek my seuntjies van die fliek en van verliefdheid. Die fliek is geïnspireer deur ’n ware liefdesverhaal wat ná twee dekades steeds hou, en dit is ’n viering van daardie oomblik wanneer iets tussen twee mense gebeur.

Ek vertel my kinders dat verliefdheid lekker is, maar ook soms seermaak. Dat dit kan verbygaan, maar ook kan hou. Dat dit iets moois is.

My kleintjie is onbeïndruk. Hy “hou nie van dogtertjies nie”, sê hy en trek sy neusie op. Hy dink ’n bietjie, en dan sê hy: “Een in my klas is medium, maar net medium.”

Die ouer een vra my of ek en sy pa nog verlief is. Ja, my liefie, sê ek.

“Hoe weet jy?” vra hy. Ek soen hom op die kop en vryf deur sy hare. En vertel vir hom hoe ek weet.

Hy luister ernstig na die storie, want hy’s ’n outjie wat dinge wil verstaan.

Die volgende dag vra ek my man om hawermout te gaan koop vir die beskuit wat ek wil bak, en hy kom by die huis met drie verskillende soorte sodat ek die “regte een” sal hê.

“Kyk hoe oulik is julle pa,” sê ek vir my kinders. Die oudste een kyk vir my, en dan na sy pa. En dan glimlag hy so by homself, en daar’s iets soos lig in sy oë.

  • Vergeet my nie begin op Vrydag 14 Februarie