Oudpres. Barack Obama en Joe Lieberman het gepraat; ook oudpres. George Bush en Henry Kissinger.

Twee Demokrate en twee Republikeine.

McCain het hulle sélf gevra om dit te doen – en gesê pres. Donald Trump mag nie by sy roudiens wees nie.

Die sprekers het nie altyd met McCain saamgestem nie, maar gesê sy nalatenskap is juis dít: Ons waardes moet herleef; dis verhewe bo politiek.

“Soveel van ons politiek is gemeen en kleinlik . . . deurspek met bombasme, beledigings, valsheid en woede. Dis politiekery wat kastig dapper is, maar uit vrees spruit. John het ’n beroep op ons gedoen om groter te wees,” het Obama gesê.

Ek en my man kyk die afgelope tyd die dokkie The Vietnam War op Netflix.

McCain was byna ses jaar lank ’n krygsgevangene in dié oorlog. In die dokkie sê een van die Viëtnamese oudsoldate: “Only those who have never fought, like to argue about who won and who lost.”

Sommige dinge is belangriker as wen of verloor; as reg of verkeerd wees. Hoe jy dinge sien, word deur jou agtergrond en invloede bepaal.

Daar is nie altyd net een antwoord nie. Maar daar is sekere waardes wat altyd geld – en dít is wat die meeste tel.