Hier en daar byt iemand op ’n lip, af en toe vertrek iemand se gesig in ’n grimas. Dan is dit asof almal gelyk na die asem snak – voor die helfte juig en die ander vieserig mor.

Telkens sou ek dan omdraai en op die TV-skerm agter my kyk: Wie speel? Net voor die halfeindrondes het die opwinding oor die Wêreldbekersokker my toe ook meegevoer en het ek ’n brandende begeerte ontwikkel dat België moes wen (bl. 86).

In die dae voor sakdag het die sokkeraksie plek gemaak vir ’n aangrypende verhaal wat die ganse wêreld ook vasgenael sou hou: dié van die 12 seuns en hul sokkerafrigter wat vasgekeer is in ’n grot in Thailand (bl. 20).

In fluisterstemme het groepies mense die moontlike lot van die kinders bespreek: Sou hulle betyds voor die monsoenreën gered kon word?

Toe die eerste seuns die Sondag voor sakdag uit die grot gered word, het ’n vriendin tydens middagete by ons huis in trane uitgebars.

Die braai was vergete; geskiedenis het op die skerms van ons fone ontvou. “Oor 20 jaar gaan ons weer terugdink en wonder wat van hierdie kinders geword het,” het my vriendin gesê.

Af en toe, al is dit net vir ’n oomblik, voel dit asof die wêreld een word.