My ouma en oupa, albei in hul 90’s, is al 70 jaar lank getroud. Ek het my ouma ’n paar jaar gelede – moontlik ná ’n onderonsie oor ’n onsinnigheid in my eie huwelik – gevra hoe sy dit regkry om so lank gelukkig getroud te bly.

Sy het net ’n oomblik nagedink en toe geantwoord: “Soms moet ’n mens ook net stilbly.”

Ek hou baie van my man, en hy meestal ook van my, maar wys my die couple wat nie soms vassit nie.

Dít was vir my ’n openbaring – stilbly is helaas nie my sterk punt nie. In vandeesweek se uitgawe is ’n insiggewende artikel met huweliksraad, ’n uittreksel uit ’n boek met ’n titel wat nie doekies omdraai nie: How to Keep Your Marriage from Sucking.

Ek hou baie van my man, en hy meestal ook van my, maar wys my die couple wat nie soms vassit nie.

In my huwelik het my traagheid om huishoudelike take af te handel (en dit trouens te onthou) my arme man al amper gek gemaak.

Dit is eintlik ’n wonderwerk dat hy my nog liefhet al het ek in ons verhouding van 15 jaar nog nóóit onthou om enigiets vroegtydig te doen nie.

Nou die dag vertel ’n vriend my hy is al 40 jaar getroud.

“Ek weet nie hoekom ons getrou het nie, want ons verskil heeltemal. Dit was eintlik ’n groot fout,” sê hy.

Ons lag, want hy en sy vrou is groot vriende en gelukkig saam.

Hoe’t julle 40 jaar gehou? vra ek. En hy antwoord: “Aanvaarding.”

Kontak ons
  • Kontak my by redakteur@huisgenoot.com.
  • Huisgenoot onderskryf die Suid-Afrikaanse Perskode wat ons verbind tot joernalistiek wat waar, akkuraat, regverdig en gebalanseerd is.
  • As jy meen ons kom nie die kode na nie, kontak die Persombudsman by 011-484-3618 of pressombudsman@ombudsman.org.za.
  • Het jy nuusvoorstelle? Stuur e-pos na awessels@media24.com of bel 021-406-3309 met voorstelle vir artikels.