Zephany Nurse, die tienermeisie wat moes hoor dat die ma en pa wat sy 17 jaar geken het nie haar biologiese ouers is nie, se lewe is drie jaar gelede liederlik omgedop.

Boonop moes sy toekyk hoe die tronkdeure vir 10 jaar toeklap agter die grootmaakma aan wie sy so geheg is.

En nou is die meisie wat as pap baba uit die Groote Schuur-hospitaal in Kaapstad gesteel is self ’n jong ma en onthul sy dat sy weer ’n kind verwag – dié keer ’n seun.

Sy het in die verlede al erken dat haar verhouding met haar biologiese ouers, Morné en Celeste Nurse, wankelrig is, maar gesels openhartig met Huisgenoot oor hoe sy al by Celeste gaan aanklop het vir raad oor hoe ’n mens kophou met twee piepklein kinders in die huis.

En noudat sy gedwing is om op ’n vroeë ouderdom volwasse te word, vertel Zephany, het sy groter begrip vir die twee ma’s in haar lewe wat albei al “geweldige swaarkry beleef” het.