Hy is koorsig en naar en ons is kort-kort in die nag op.

In ’n stadium raak die kleintjie ook wakker. Hy klim uit die bed en staan met hangskouertjies in die donker; ’n omgekrapte sakkie slaap met ’n groot stem.

Hy ween: “Mamma, hoekom kom slaap jy nie by mý nie?”

Dinge is deurmekaar – al om die uur word komberse en kussings van bed na bed gedra.

Die volgende oggend word ek douvoordag wakker toe die kleintjie op my maag kom sit, sy neus teen myne druk, my oë met sy vingertjies ooprem en opgewek vra: “Mamma, kan ek Peppa Pig kyk?”

My oudste is ’n vuurwarm kooltjie onder die duvet. Ek voel of ek niks geslaap het nie.

Gelukkig is my man die dag af en kan hy by ons oudste bly. Ek is laat vir werk, en die dinge wat die dag gaan bring, maal deur my kop.

Dan dink ek skielik aan my tannie by wie ons die vorige dag gekuier het. My ouma, in haar 90’s, was ook daar.

Versigtig, saggies, het my tannie haar versorg. Ná soveel dekades is die rolle omgekeer.

Toe ek by die werk parkeer, dink ek hoe vertroostend dit is om iemand te hê om jou te versorg – en watter voorreg dit is om iemand te hê vir wie jy kan sorg.