Sommige van die mense oor wie ons in hierdie uitgawe skryf, het daarby ondenkbare tragedie beleef, en my hart voel stukkend vir hulle. Nee, nee, dink ek, dit kán nie wees nie; dit mág nie wees nie. Die vele verhale van swaarkry het baie van ons die afgelope tyd verslae laat voel.

En vir mense wat in hierdie tyd eerstehands geraak is deur onmoontlike uitdagings of tragedie, was die seer by tye byna onhoudbaar. Selfs noudat ’n nuwe fase van die inperkingstyd aanbreek en die lente nader kom, voel dit by tye of die winter nog lank nie verby is nie.

Dit wat gebreek, stukkend of seer is, vat soms baie lank om gesond te word. En soms word dit nooit weer heeltemal gesond nie – dit kán nie. Daar is eenvoudig nie vertroosting vir die seerste verlies nie.

In dié tyd lees ek toe in een van my gunstelingtydskrifte, The New Yorker, ’n artikel waarin vertel word van die sielkundige Sigmund Freud, wie se dogter, Sophie, dood is in die Groot Griep van 1918-’19. Die slotparagraaf is aangrypend:

Almost a century ago, Freud wrote, while mourning Sophie, a few words that were meant to be about individuals but that might also be about a city and a way of life: ‘We know that the acute sorrow we feel after such a loss will run its course, but also that we will remain inconsolable, and will never find a substitute. No matter what may come to take its place, even should it fill that place completely, it remains something else. And that is how it should be. It is the only way of perpetuating a love that we do not want to abandon.’

–  Yvonne

  • Huisgenoot onderskryf die Suid-Afrikaanse Perskode wat ons verbind tot joernalistiek wat akkuraat, regverdig en gebalanseerd is. 
  • Het jy nuusvoorstelle? Stuur e-pos na awessels@media24.com of bel 021-406-3309 met voorstelle vir artikels.