Nadia op die lughawe saam met die paramedikus Cuan
Nadia op die lughawe saam met die paramedikus Cuan Young. 'n Vlug verg heelwat dog flinke voorbereiding. Foto: Verskaf

Vandat ek die eerste keer gesien het wat ’n noodvlug behels, was ek net verlief daarop. Dis ’n werk wat jou fisies, geestelik en emosioneel toets. Dis uitdagend, want dis alleen daarbo. Dit is net jy en jou paramedikus. 

Maar omtrent ná elke sending, voel jy jy het iets bereik. Jy het iemand se lewe beter help maak. Met elke sending is daar nuwe uitdagings, ’n ander tipe pasiënt, ’n nuwe soort geval. Dis wat dit interessant maak.

As vlugdokter moet jy alles wat jy in ongevalle doen in die lug kan hanteer, en elke tipe ICU-pasiënt daar kan behandel.

Ek wou maar nog altyd 'n dokter word. My pa is een – hy is in familiegeneeskunde – en ek het altyd gevoel ek sou in sy spore volg. My passie en dryfkrag vir my werk het ek by hom geleer. Maar ook dat, hoewel jy moeilike goed gaan sien in dié werk, jy jou nie emosioneel moet afsluit en kil raak teenoor die wêreld nie.

Die taak as noodvlugdokter het eintlik toevallig oor my pad gekom. Ek het by Netcare Sunninghill-hospitaal gewerk en Kenneth O’Connor van Netcare se vastevlerkafdeling wat daar gebaseer is, leer ken. Hy het my die geleentheid gebied om te sien wat 'n noodvlug behels. 

As vlugdokter moet jy alles wat jy in ongevalle doen in die lug kan hanteer, en elke tipe ICU-pasiënt daar kan behandel. My eerste vlug was na Accra in Ghana, en dit was byvoorbeeld 'n plek wat ek nooit andersins sou besoek het nie. Ek het toe besef ek kan Afrika sien, dít terwyl ek my passie uitleef.

Ek het in September 2018 as vlugdokter vir Netcare 911 gekwalifiseer. My 100ste vlug in Februarie vanjaar was vir my 'n groot mylpaal, en teen begin April het ek by 107 getrek.

Spanwerk saam met paramedici soos Grant Strydom en
Spanwerk saam met paramedici soos Grant Strydom en die lugambulansvlieëniers help haar stresvolle uitdagings hanteer. Foto: Verskaf

Vir my werk was ek nou al in 23 lande, waarvan 21 Afrika-lande en omliggende eilande soos Mauritius en die Seychelle. Ons moes ook 'n baba uit Georgië terugbring Suid-Afrika toe, en ek het ook in Amsterdam gaan draai.

Ek doen omtrent 15 bystand-skofte per maand. Ek werk ook in ongevalle by die Mediclinic Midstream in Midrand en het ook die afgelope jaar in Midstream se covid-ICU gewerk. Ek sal natuurlik nie op dieselfde dae wat ek daar werk, op vlugbystand wees nie. So, ek spandeer omtrent die helfte van my tyd in ongevalle en die helfte op vlugbystand.

In so 'n 24 uur-skof as vlugdokter kan hulle my enige tyd bel. Ons word gereeld in die middel van die nag uitgebel. Ek moet binne 45 minute ná 'n oproep by die Lanseria-lughawe naby Johannesburg uitkom. Daar moet ek en die paramedic die mediese toerusting nagaan en seker maak alles werk. Ons pak dan alles self op die vliegtuig. Dis nogal baie toerusting – byvoorbeeld alles wat 'n ICU-pasiënt aan die lewe moet kan hou. 

Ons het ook 'n spesifieke doktersak vir as jy byvoorbeeld noodchirurgiese prosedures in die lug moet doen, soos borskas-dreineerbuise insit, intubasie, die skep van chirurgiese lugweë.

Terwyl ons pak, sal die vlieëniers van Guardian Air – Netcare se vastevlerk-diensverskaffer – die vliegbeplanning doen. Ons probeer gewoonlik binne twee uur vandat ons ontbied is in die lug kom.

Nadia en die vlieëniers Simon Fourie (links) en Em
Nadia en die vlieëniers Simon Fourie (links) en Emile Oosthuizen. Foto: Verskaf

By ons bestemming aangekom, sal die plaaslike ambulansdiens my en die paramedic met ons toerusting gewoonlik na die hospitaal neem waar die pasiënt is.

Daar sal ons die pasiënt stabiliseer, al die moontlike mediese prosedures doen . . . want as jy eers in die lug is, is dit moeiliker. Jy probeer al die komplikasies ondervang wat moontlik in die lug kan intree.

Dan is dit terug vliegtuig toe met die pasiënt. Aan die einde van die vlug vergesel ons hom ook na die hospitaal wat hom opneem. Ons moet dan terug Lanseria toe waar ons eers die toerusting skoonmaak, terugpak en voorraad weer aanvul. 'n Sending kan enigiets van twaalf uur tot twee dae of meer duur.

Een van my uitdagendste vlugte was dié van 'n kind met 'n hartkondisie.

Ons moes hom in KwaZulu-Natal gaan haal. Midde-in die vlug het hy 'n hartstilstand gehad en ons moes CPR doen. Op die grond het jy gewoonlik 'n hele span mense vir so 'n resus [resussitasie], maar in hierdie geval was dit net ek en my paramedic.

Sy ma was ook aan boord en ons moes haar ook op hoogte hou terwyl ons besig was. Gelukkig kon ons hom bybring.

In 'n ander geval kon ons 'n pasiënt in Nairobi eers ná omtrent twee dae op 'n punt kry waar hy stabiel genoeg was om hom in die vliegtuig te laai. Ek was eindelik vir 36 uur aaneen wakker.

Nadia en haar ouers, Gert, ook 'n dokter, en Lydia
Nadia en haar ouers, Gert, ook 'n dokter, en Lydia Swart, 'n statistikus. Sy is "familievas" en bestee graag tyd saam met familie en vriende wanneer sy kan. Foto: Verskaf

Kommunikasie veral hoër op in Afrika kan ook 'n struikelblok wees. Omtrent niemand praat Engels nie – dis meestal Frans of Portugees. Om dus 'n akkurate verslag te kry van wat met pasiënte gebeur het en watter behandeling hulle gehad het, kan uitdagend wees.

As vlugdokter het jy soms repatriasie-sendings waar pasiënte nie so kritiek is nie en hoofsaaklik net mediese sorg nader aan die huis nodig het. So was ons ook al na Réunion-eiland waar ons oorgeslaap het en die scenery kon geniet.

En daar was 'n paar vlugte wat my altyd na aan die hart sal lê, soos dié waar ek 'n dogtertjie aangevlieg het om 'n leweroorplanting te kry en toe 'n jaar later weer nadat sy haar lewer ontvang het en dit goed gegaan het met haar. Dit was spesiaal.

Dié werk kan stresvol wees en 'n mens sien soms ontstellende goed wat moeilik is om emosioneel te verwerk. Maar al is ons 'n klein span, is ons 'n close span wat mekaar in alles ondersteun. Jy het 'n sterk paramedic, en waar hulle kan sal een van die vlieëniers selfs die kajuit verlaat wanneer jy 'n ekstra hand nodig het. Hulle help ons ook om die pasiënte te laai. 

As 'n mens sulke goeie spanwerk het, kan jy ook ná die tyd debrief en met kollegas praat oor moeilike situasies. Dit alles help 'n mens deur al die stres.

Covid-19 het ook ons werk ingewikkelder gemaak. Met die aanvanklike streng regulasies in Suid-Afrika moes ons bemanningslede ná elke vlug vir 14 dae in 'n regeringsgoedgekeurde fasiliteit in kwarantyn gaan. Laasjaar het ek omtrent altesaam twee maande alleen afgesonder in 'n hotelkamer gesit. 

Wanneer jy op die lang vlugte al die PPE [beskermende uitrustings] moet dra en so opvlieg in die Afrika-son met jou volle pak aan, kan dit nogal wárm en uitputtend raak. Dis hard op 'n mens. 

Die meeste van die covid-pasiënte wat ons vlieg, is ook só siek dat hulle 'n verskriklike hoë suurstofaanvraag het. Ons was al in situasies waar ons suurstof amper in die vlug opgeraak het; ons moet dus ekstra suurstof pak.

Die vlugdokter, hier by ’n krieketwedstryd op Supe
Die vlugdokter, hier by ’n krieketwedstryd op SuperSport-park, maak darem ook tyd vir ontspan. Foto: Verskaf

My geloof inspireer my om die werk te doen. En op die einde gaan dit oor jou medemens. Om pasiënte uit lande waar hulle nie die nodige mediese toerusting en spesialiste het nie, te bring na waar hulle die nodige sorg kan ontvang – dis ’n beloning op sigself.

Ek sal wel eendag wil nesskrop, 'n gesin en kinders hê. Dis beslis deel van my planne. Ek sal net 'n bietjie moet afskaal met die vlugte. Maar ek sal so lank as wat ek kan voortgaan met dié werk.

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe