Dis vir my so hartseer om te moet toekyk hoe die bejaardes en die eensame mense onder ons soms gedwing word om van hul geliefde troeteldier afskeid te neem.

En dit net omdat hulle weens omstandighede waaroor hulle geen beheer het nie, na ’n nuwe tuiste moet trek waar diere nie toegelaat word nie.

Dit is so sleg en hartseer vir die mense en hul diere. Die tragiese gevolg is dat daar ’n oorbevolking van verwerpte en onversorgde diere is.

Dis tog seker nie wat God bedoel het toe Hy aan ons pragtige diere gegee het om te versorg en te vertroetel nie.

Ek moet nou hulpeloos toekyk hoe my eensame bejaarde moeder na ’n troeteldier smag. Nadat sy meer as 70 van haar lewensjare met haar geliefde diere gedeel het, mag sy dit nou nie meer doen nie.

Hoe troos ’n mens so ’n hart? Die mensdom moet ’n bietjie besin oor wat ons nou eintlik op aarde doen.

Barbera E. Jansen van Vuuren

Skryf aan ons
E-pos hgnbrief@huisgenoot.com. Bydraes vir My Storie moenie langer as 300 woorde wees nie.