Die opwinding is besig om koorshoogte te bereik met die Wêreldbekerrugbytoernooi wat eindelik aangebreek het. 

En dis selfs nog meer besonders gemaak deur die feit dat Japan vir die eerste keer gasheer van die 2019-vertoonstuk is. 

Die Dapper Bloeisels, soos die Japannese rugbyspan bekend staan, se besonderse sege oor die Springbokke in die 2015-toernooi sal vir altyd een van die beste Dawid t. Goliat-oomblikke in rugby wees. 

Dit was die grootste suksesverhaal vir die Japannese; niemand het verwag dit hulle die reuse Bok-span in die openingswedstryd sou kon oorrompel nie. Daar is selfs ’n fliek oor die wedstryd gemaak. 

Die Japannese se oorwinning was egter nie genoeg vir hulle om uit hul groep te kom en die uitklopronde te haal nie. 

Hoewel die Bokke gevorder het tot die halfeindstryd teen die All Blacks, het daardie skoknederlaag steeds by hulle bly spook. Dit sou later een van die donkerste eras in die Springbok-geskiedenis inlui. 

Van die tweede plek op die Wêreldrugby-ranglys in 2015 het oud-Bokbreier Allister Coetzee se span in 2017 en 2018 tot die sewende plek uitgesak.

In hierdie tyd het Coetzee se Bokke geswig tot hul eerste tuisverlies teen Argentinië en 'n verlies teen Italië. Hulle het ook hul grootste nederlaag in 111 jaar in ’n wedstryd teen die All Blacks in Albany gely.

Rassie Erasmus het ingekom en met net 18 toetswedstryde oor voor die aanvang van die Wêreldbekertoernooi het hy die reusetaak gehad om die Bokke tot hul reg in wêreldrugby te herbou.

Maar steselmatig het die prestasie van sy span – en die skouspelagtige drieë van spelers soos Herschel Jantjies (23) en Makazole Mapimpi (29) – by Suid-Afrikaners opgewondenheid oor ons geliefde rugbyspan opnuut laat vlam vat. 

Die Bokke kon selfs vir die eerste keer in 'n dekade die Rugbykampioenskap-trofee omhoog hou. 

En met hul oorwinning van 41-7 in hul opwarmingswedstryd teen Japan, kon die Bokke eindelik vir daardie vernederende nederlaag teen dié gasheerland in die 2015-toernooi in Engeland wraak neem. 

Dit blyk dat al wat die Bokke moes doen, was om identiteit terug te kry; harde voorspelers wat kan skrum, 'n losskakel wat vir sowel die pale as gebiedsvoordeel kan skop, afgerond met 'n aggressiewe verdediging wat druk op teenstanders uitoefen. 

Dit is nie 'n wedstrydplan wat die hartstog aanhits nie, maar dit vermoor beslis die passievolle ambisies van die opposisie. 

Die Groen-en-Goud is die eerste span wat in Japan geland het en mik nou om in die voetspore van hul suksesvolle 1995- en 2007-voorgangers te volg. 

Hulle sal eers hul aartsvyande, die magtige All Blacks, in hul eerste amptelike wedstryd moet aandurf. 

Maar die manne is ontspanne, gefokus en doelgerig; die DNS van 'n wenspan. Hulle dra boonop die beeld van die 1995-held Chester Williams op hul trui. 

Daar is geen twyfel dat die Bokke op sy nalatenskap gaan voortbou nie. Dis aan in Japan!

Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.