Anri Hugo (40), haarkapper, Rustenburg

Dit spook by my: daardie oproep waarin ek moes hoor sy het ’n einde aan alles gemaak.

Sy was ’n vriendin van my. ’n Liefdevolle mens met ’n omgeehart – een met soveel warmte.

’n Enkelma wie se wêreld met soveel vreugde om haar dogtertjie gedraai het. En toe – een oggend net ’n paar dae terug – staan sy op en trek die sneller.

G’n waarskuwing nie.

Niemand het geweet presies hoe swaar die wêreld op haar skouers rus nie.

Haar dogtertjie was binne die huis toe daardie knal teen die mure weergalm.

Sy’t verstar daar bly sit toe bure en owerhede die huis moes oopbreek.

Morsdood. Gone forever. Sy sal haar ma nooit weer sien nie . . . Dit breek jou. Dit knak iets binne jou.

Maar dis meer as net dit: Dit laat jou ontstoke. Want ék, nes sy, is ’n enkelma.

Ek stoei met dieselfde vrese.

Ek wonder self of daar ’n aand gaan kom dat ek nié kos voor my dogtertjie sal kan neersit nie.

That’s the real face of this thing.

Dís die ware impak op ons. Want die werklikheid is wreed, nie net tough soos party sê nie.

Tien jaar lank het ek en my suster elke dag soos slawe gewerk om van ons salon ’n sukses te maak – sy met skoonheid en ek met hare.

Jy stoei en jy klim oor struikelblokke.

Tot op ’n dag dat jy ’n lewe maak.

Dan staan jy oplaas terug en kyk na al die jare se bloed en sweet – trots en tevrede.

Maar dan – skielik en sonder waarskuwing – kom die bevel: Jou deure moet toemaak.

Daardie aand laat in Maartmaand, die aand wat ons die laaste keer die deure agter ons toegetrek het, het ons leeg gevoel soos nog nooit vantevore nie.

Want die werklikheid is dít: Jy weet nie of daardie deure ooit weer gaan oopmaak nie.

Dis ’n groot skok, en jy’s bang en onseker oor wat die komende weke inhou.

Êrens binne jou, wanneer jy dan diep vir moed grawe, sus jy jouself: Dis net drie weke; hou moed; jy sal weer planne maak – nes soveel keer tevore.

Maar dan kom en gaan drie weke en jy is meer onseker as wat jy nog ooit was.

Jy voel hoe alles deur jou vingers glip.

Jy word gekoggel deur donker gedagtes wat jou elke dag dreig dat álles van jou gestroop word . . .

En dan – wat dan? Die hartseerste is om die mense wat vir soveel jare saam met jou werk, mense wat soos familie geword het, in die oë te kyk en te sê: Ons kry nie befondsing nie; daar’s nie geld nie . . .

Sy kies elke dag lewe sê Anri. Foto: Verskaf
Sy kies elke dag lewe sê Anri. Foto: Verskaf

Hulle kyk na jou met oë wat vra: En nou? Gaan ons ooit weer werk kry?

Maar dis nie asof jy aan jouself dink nie.

Jy sou rede hê.

Jý verdien tog ook nie ’n inkomste nie; jy weet ook nie wanneer die wêreld weer soos voorheen sal draai nie.

Dis asof jy briek; asof jy ’n oomblik lank neem om tot verhaal te kom en dan vra: Watter kant toe – links of regs?

Want jy kan nie vorentoe nie . . . Ons is deur hel. En die einde is nog lank nie in sig nie. Ek het in een stadium met my psigiater op WhatsApp gepraat.

Dit klink asof ’n mens van jou trollie af is. Dalk is jy.

Hoe anders?

Dit voel of jy in ’n fliek is. Jy dink die werklikheid kan tog nie waar wees nie. Dis te wreed.

Maar dit ís. En dan, elke dag sonder ophou, staan jy maar weer op; jy gaan maar weer aan; jy baklei maar weer van voor af om kop bo water te hou.

Mens kan tog nie die werklikheid ignoreer nie.

Hoe hou jy jou besigheid aan die lewe met sy deure toe?

Jy maak planne; jy bedink elke dag maniere om die volgende fase aan te pak.

Maar soms is jy so moedeloos, jy kom op ’n punt wat jy doodeenvoudig sê: F** dit – ek kan nie meer nie. Ek wil ophou baklei.

Maar die volgende dag baklei jy maar weer van voor.

Selfs al het jy gesweer jy sal nie kan nie.

Ons het hard baklei om seker te maak almal by die salon is oukei.

Daar is werkloosheidsversekering, ja, en die ondersteuning wat ons aan mekaar bied.

Ons is bevoorreg, sê hulle; ons moes nog niemand laat gaan nie.

Maar dis tog nie hoe dit voel om bevoorreg te wees nie.

Daar is ’n onderliggende woede onder ons – onder die haarkappers en die stileerders en dié in die skoonheidsbedryf. Want dit voel of ons eenkant toe gestoot is; asof ons in die vergetelheid verdwyn.

Dis die een refrein wat almal sing: Ons word nie ernstig opgeneem nie.

Is ons maar net niks nie?

Ons het tog ook gesinne; ons het tog ook verpligtinge. Dis asof die wêreld na jou kyk en sê: Sorrie, nè – jy was te dom om ’n dokter te word; nou moet jy maar die prys betaal. Jy is nie belangrik genoeg nie.

‘Is ons maar net niks nie? Ons het tog ook gesinne; ons het tog ook verpligtinge. Dis asof die wêreld na jou kyk en sê: Sorrie, nè – jy was te dom om ’n dokter te word; nou moet jy maar die prys betaal’

Ons gooi jou sommer net in level 1 – ons sal later met jou deal.

Weet mense dan nie ons is nie net in die mooimaakbedryf nie?

Weet hulle nie dat ons elke dag mense voor ons sien transformeer nie; mense wat hulle selfvertroue terugwen; mense wat in ’n veilige spasie praat oor dinge wat swaar op hulle harte druk – vroue wat vlug van hul mans.

Ons ís belangrik. Ons ís nodig. Dis moeilike tye – vir almal.

Maar hier in ons bedryf is dit soos om op ’n slagveld te wees.

Die een ná die ander man val . . . En daar’s niks wat jy daaraan kan doen nie.

Daar’s nie huurgeld vir die spasie nie. Daar’s nie geld om jou mense te betaal nie.

Hel, jy het nie eers geld om jou eie uitgawes te dek nie.

Jy staan terug en kyk na die total destruction – en jy wonder waar de hel dit alles gaan eindig.

Jy’s oorstres; jou slaappatroon is al weke lank opgeneuk en jou stresvlakke is buite beheer.

En dan kry jy die oproep: Sy het alles beëindig – die druk het eenvoudig te veel geword.

En weer wonder jy: Wat of wie is volgende?

Dan staan jy voor ’n kruispad: Gaan jy terugsit en vergaan van ellende terwyl alles van jou weggevat word?

Of gaan jy ondanks bevele en ondanks jou vrese doen wat jy moet om jouself in die letterlike en psigologiese sin aan die lewe te hou?

En ek kies lewe. Elke dag. 

Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe