Karen van den Oever (38), duiker en wêreldrekordhouer 

Karen van den Oever het ‘n wêreldrekord laat spaander deur 236m te duik in ’n grot, al, ‘hou sy eintlik nie van grotte nie nie’. Hier vertel sy in haar eie woorde haar verhaal. 

“Die eerste keer toe ek in ’n grot geduik het, was ek vreesbevange. Ek het gedink ek wil dit nie weer doen nie. 

Karen en haar man, Francois Bain. Hy is ook 'n dui
Karen en haar man, Francois Bain. Hy is ook 'n duiker. Foto: Verskaf

Met my 19de verjaarsdag, het my ouers vir my ’n duikkursus geskenk gegee. Dit was die eerste keer wat ek geduik het. My oom, wat vir die lekker geduik het, het dit nog vir hulle aanbeveel.

Ek het was baie op my senuwees toe ek die eerste keer daardie duikpak aantrek; ek het eintlik gedink dié hele duikding is nie vir my nie. Maar ek het die kursus voltooi en meer en meer op duik verlief geraak. 

Ek kan nie presies vir jou sê waarom ek só mal daaroor is nie. Ek dink dit is die absolute stilte onder die water. Die feit dat niemand met jou praat nie en dat jy op jouself staat maak. Ek is nogal kompeterend. Mense sê soms ek is té kompeterend. Miskien is dit so, maar ek dink ook dit is wat my tot hier gebring het.

Ek is ’n gekwalifiseerde duikinstrukteur en het seker byna 20 duikkwalifikasies.

Dit was in 2007 wat ek die vorige vroue-rekordhouer vir die diepste duik by die Wits onderwaterklub ontmoet het. Verna van Schaik het in 2004 in die Boesmansgat in die Noord-Kaap 221 meter diep geduik en sodoende die wêreldrekord opgestel het.  Ek het toé vir haar gesê ek gaan eendag haar rekord breek en sy het gesê ‘go for it’.

Dit is hoe lank ek al dié droom het.

Die gemiddelde duiker duik 20 meter tot 30 meter diep. Wanneer ’n mens ’n duik doen van oor die 200 meter, gaan daar maande se beplanning in. Jy word nie net wakker een dag en besluit ek gaan vandag só diep duik nie. Ek het al in 2016 ’n span duikers by mekaar begin sit wat my sou help om die rekord te verbeter. 

Ons duik so twee naweke per maand. Hier in Gauteng is daar nie regtig baie plekke waar mens diep kan duik nie en dit is nie meer regtig vir my pret om vlak te duik nie. 

Omdat ek nie gek is oor grotte nie, wou ek die wêreldrekord vir die diepste duik vir ’n vrou, in die see opstel. Ek het gou besef dit is ’n logistieke nagmerrie en dit sou bloot te veel kos. ’n Mens sou dit nie in Suid-Afrika kon doen nie want ons seestrome is te sterk. Om verskeie bote te huur en verblyf vir almal te betaal, was onrealisties.

Ek het toe besef ek moet nou maar oor daai ongemaklikheid van my kom en die rekord in ’n grot opstel. Toe ek vir die 12 duikers in my span sê hulle moet hulself gereed maak, ons gaan dit in ’n grot doen moes almal ’n bietjie van ’n kopskuif maak. En om in grotte te duik, het mens ook ’n addisionele duikkwalifikasie nodig. 

Die duik­span wat Karen in die Boesmansgat, ’n gro
Die duik­span wat Karen in die Boesmansgat, ’n grot naby Kuru­man in die Noord-Kaap, gehelp het. Foto: Verskaf

Só het ons toe met die voorbereiding vir die duik begin. Die plan was om dit in die Boesmansgat, ’n grot naby Kuruman, te doen. Dit is die diepste grot in Suid-Afrika en een van die diepstes ter wêreld.

Dié gat is soos ’n onderstebo roomyshorinkie gevorm. Die opening is net 1,5 meter groot maar hoe dieper jy af gaan hoe groter word dit tot dit die grote van ’n katedraal is. Die grot is net oor die 280 meter diep. Die gat het miljoene jare gelede reeds gevorm en talle ervare duikers het al hiér gesterf. 

Ek is gek oor so diep duik want dit is ’n uitdaging. Ek hou veral van al die voorbereiding voor die tyd. Dit is maande en maande se navorsing oor watter gasse om in jou sillinders te gebruik en baie teoretiese voorbereiding. Ek het so ses kilometer per dag gehardloop ook. Tussendeur moes ek nog my werk in navorsing by ’n farmaseutiese maatskappy ook doen.

Ek was die eerste een in die water. Dit het my so 15 minute geneem om tot op 236 meter te duik.

26 Maart was die groot dag. Dit was nog donker toe ons daar aangekom het. Ek en my duikspan van 18 mense het toe die 20 minute na die Boesmansgat gestap. My man, Francois Bain, is ook ’n grot-duiker en hy was deel van die span.

Die werk van die verskillende duikers was om op verskillende dieptes te wees vir ingeval iets verkeerd sou loop. My man was een van die duikers wat naby die oppervlakte was.

Ek was die eerste een in die water. Dit het my so 15 minute geneem om tot op 236 meter te duik. Die aanvanklike plan was om tot op 250 meter te gaan maar iets in my het gesê dit is genoeg.

Ek wou teruggaan na die oppervlak, maar toe ek my vlerke opblaas, wat soos ballonne op jou rug is, het niks gebeur nie.

Ek onthou hoe my brein vir my sê ek moet net kalm bly maar my hele lyf skree ‘jy gaan verdrink’.

Ek was paniekbevange. Ek het geweet ek kan ook nie te veel van my gas in hulle in blaas nie, anders gaan ek nie genoeg hê en die volgende duiker vir bystand was op 200 meter.

Ek het probeer opswem en myself aan die tou optrek maar ek het gespartel. Ek onthou hoe my brein vir my sê ek moet net kalm bly maar my hele lyf skree ‘jy gaan verdrink’. Ek het aanhou boontoe probeer swem maar dit het moeilik gegaan.

In ’n stadium het ek afgekyk en toe gesien daar is ’n lyn wat om my voete gekoek was. Toe ek dit afhaal, het dit baie makliker gegaan maar daardie paar minute was van die mees angswekkende wat ek al in al my honderde duike beleef het.

Om te weet niemand kan kom help nie, ek is op my eie.

Karen van den Oever en 'n mede-duiker beweeg na di
Karen van den Oever en 'n mede-duiker beweeg na die oppervlak nadat sy die wêreldrekord verbeter het. Foto: Verskaf

Wanneer mens so diep onder die aarde se kors is, is dit tjoepstil en pik donker. ’n Mens se verbeelding wil-wil met jou weghol want dan sal ek dink ‘ek sweer ek het nou-net iets in die hoek van my oog gesien’ of ‘het ek nou iets gehoor?’ maar daar is geen lewe in dié gat nie. 

Dit help darem om soveel duikers langs die pad te hê soos jy na die oppervlak gaan.

Sielkundig, en om seker te maak jy is gesond en reg. Dit het op die ou einde meer as sewe ure geneem om die rekord op te stel want hoe nader mens aan die oppervlakte kom, hoe stadiger moet mens op kom want anders gaan jy dekompressie siekte kry. Dit is wanneer gas in jou bloed vorm en dit kan dodelik wees. 

Theo van Eeden en Karen nadat sy die wêreldrekord
Theo van Eeden en Karen nadat sy die wêreldrekord verbeter het – sy het 236 m diep geduik. Foto: Verskaf

Toe ek bo kom, was dit so ‘n verligting. Almal het gejuig. Iemand het my toe gelukgewens en gesê is ek nou tevrede. My eerste woorde was: ‘Dalk, want dit was nie so diep soos wat ek wou gegaan het nie.’

Ek kan lankal nie meer net duik om na mooi vissies te kyk nie. Ek weet ek kan nog dieper duik.

Ek het nooit my ouers vertel dat ek die rekord gaan aandurf nie. Eers toe ek uit die water klim, het ek my pa gebel en vir hom vertel. Ek sê toe vir hom hy moet vir my ma vertel want sy kan vreeslik bekommerd wees oor my.

Sy sê toe ‘gaan jy nou ophou met al hierdie malligheid nou dat jy die rekord gebreek het’. Ek het ja gesê, maar wie weet. Ek kan lankal nie meer net duik om na mooi vissies te kyk nie. Ek weet ek kan nog dieper duik. Miskien volgende jaar.”

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe