Vanoggend ry ek uit my kompleks uit. Die polisie stop voor my. Hulle haal ’n silwer body bag uit hul vangwa. Onder die boom lê ’n man. Leweloos. Toegedraai in ’n enkele dun kombersie wat skaars sy skouers bedek.

In sy vuil, stukkende broeksak kry hulle ’n papiertjie.

Daarop, in ’n sukkelende handskrif in potlood, staan geskryf: ‘Kosie. Gebore 1969. In Junie.'

Hy is dood, hoor jy iemand sê. Dit het gisteraand woes hier gereën; dit was yskoud.

“Hy moes seker onder die boom kom lê het vir 'n bietjie skuiling,” sê die polisieman van agter sy masker en hy gooi die body bag oor hom.

“Ons weet niks van hom nie. Hulle sal hom seker maar daar in die begraafplaas begrawe sonder enige steen, net met ’n nommer,” sê hy.

Ek ry daar weg en onthou hoe ek gekla het dat ek in die huis moet bly. Omdat ek nie in ’n restaurant kan gaan sit met ’n glas wyn of gaan braai saam met vriende nie. Ek kla oor my iPhone se skerm wat gebreek het, Woolies wat nie genoeg free-range hoender op die rakke het nie en omdat ek my oorsese reis vanjaar moes kanselleer.

Kosie, was dit jy wat verlede week by die verkeerslig bakhand in die koue voor my motorvenster gestaan het, in jou vuil klere, en ek, nes die ander motoriste, verby jou gery het?

Waar is jou ma wat jou in 1969 in haar arms vasgehou het toe jy gebore is? Toegedraai in ’n blou kombersie, ’n babatjie wat sy eerste asemteug gegee het, wat later kon loop, sy eerste tandjie gekry het en ’n paar woorde kon sê.

Jy was seker soos enige ander laaitie wat gehou het van speel en teken en wat graag skool toe wou gaan met groot drome.

Het jy ooit warm geslaap in die winter, Kosie? Weet jy hoe dit voel? Op ’n bed met komberse en ’n verwarmer ná 'n warm stort.

Weet jy op watter dag in Junie verjaar jy, Kosie? Vandag, op 22 Junie, lê jy dood onder die boom.

Ek is so, so jammer.

Ek het jou in die steek gelaat.

Ons almal het.

  • Sedert Joanie die inskrywing geplaas het, is dit al deur 14 000 mense gedeel, meer as 4 300 kommentare is gelewer en daar 14 000 reaksies is al daarop gelewer.