GRANT BACK (54), SAL-VLIEËNIER, KAAPSTAD

Einde Januarie laas het ek gevlieg. Ek het op 3 Februarie ’n skoueroperasie gehad.

Wear and tear. Hulle het al die calcification verwyder. Dis net ’n kwessie van rehabilitasie. Dit vat ses maande vir die skouer om weer sy ding te doen.

Wat nie ideaal is nie, is dat die stres van die huidige situasie ’n klip in die pad na herstel is. Ek is ’n kaptein by die Suid-Afrikaanse Lugredery en het veral die Airbus 330’s gevlieg.

Ek het in Januarie 1996 by die maatskappy aangesluit – dis dan nou my 25ste jaar. Ek het eers in Johannesburg gebly in die vroeë jare. In hierdie tyd het ek ook op die 737’s gevlieg.

Ek het vir ses jaar op die jumbo 747’s gevlieg en op die A340-600’s vir omtrent so sewe jaar. Toe het ek teruggekom om domestically te vlieg: die Boeing 737-600’s.

Omtrent ’n jaar gelede het ek weer internasionaal begin vlieg op die 340’s. Ek is al 18 jaar deel van die unie vir SAL-vlieëniers.

In Augustus sal ek al twee jaar lank die voorsitter wees. Vir my – soos vir meeste loodse van my generasie – is dit ’n lewenslange passie om te vlieg.

Jy kan dit op die foto van my in ’n vliegtuig sien. Dis die klassieke storie van ’n klein seuntjie wat opgekyk het in die lug wanneer ’n vliegtuig verbyvlieg en droom. Ek was gefassineerd daarmee.

Die skrywer Wilbur Smith skryf so mooi daaroor in Eagle in the Sky.

Jy vra nie hoekom nie; jy het net hierdie nuuskierigheid en aangetrokkenheid. Jy resoneer met vliegtuie. Of dit nou die reuk van die jet fuel is . . .

Ek was mal daaroor om lughawens toe te gaan en daardie reuk in te asem. Ek was versot op enigiets wat met vlieg te doen het.

Dit sal ek nooit vergeet nie: toe ek die eerste keer as kind gevlieg het in die ou 727 tussen Kaapstad en Johannesburg.

Ek was seker so ses jaar oud. Jy het met trappe die vliegtuig van agter binnegegaan.

Ek kan selfs die muurpapier onthou: proteas en ’n ligte oranje. Dit was ook die dae toe almal sigarette op die vliegtuig gerook het.

Selfs na dít kyk ek terug met nostalgie. Dit was toweragtig. Die misterie, die opwinding.

Vir my was dit ook later wonderlik om daar bo in die lug bo die wheel wells te sit en af te kyk; daardie gevoel dat jy ontkoppel van die aarde, en die alledaagse lewe daar onder is as jy in die verkeer sit of in ’n kantoor.

Vir my was dit altyd oor daardie gevoel van vryheid.

En om die wêreld te sien as jong 27-jarige toe ek by die lugredery aangesluit het.

Binne ’n jaar het ek internasionaal gevlieg en in hotelle reg oor die wêreld gebly. Dit was soos ’n droom wat waar geword het.

Ons spot altyd dat as mense vir ons vra wat ons beroep is en ons sê dis ’n vlieënier, dan voeg ons vinnig by: It beats working for a living.

Ons het gedoen waarvoor ons lief is en ons word daarvoor betaal.

Dis hartseer om te sien waartoe dit gekom het vandag. Ons veg steeds om die redery se oorlewing.

Terwyl ons hier gesels, gaan ’n hofsaak begin met ’n aansoek om die SAL te likwideer.

‘Daar is omtrent 100 000 loodse wêreldwyd wat werkloos geraak het’

As dit gebeur, is ons sonder werk en sal ons min hê om daarvoor te wys.

Die departement van openbare onderneming het onlangs aangekondig dat “finale” vrywillige skeidingspakkette aan werknemers van die Suid-Afrikaanse Lugdiens aangebied word.

Die departement sê daar is geen hoop vir die SAL se voortbestaan as hy nie sy personeelkoste besnoei nie.

Ek was hoopvol, maar ons ervaring met die sakeredders was teleurstellend. Ons almal gaan aan bande gelê word om vorentoe werk te kry.

Daar is omtrent 100 000 loodse wêreldwyd wat werkloos geraak het in die laaste paar maande weens die covid19-pandemie.

In 26 jaar het ek nog nooit vir langer as ’n maand nié gevlieg nie.

Ek het eenkeer verlof gevat vir vier maande. Dit was die langste sonder om te vlieg.

Ek het die land die eerste keer verlaat as 11-jarige seun op 31 Desember 1977 en het in Londen aangekom op 1 Januarie 1978.

Van daar het ek Toronto toe gevlieg en ná drie jaar ’n Kanadese burger geword.

My ma het geëmigreer Kanada toe. My ouers was geskei.

Elke jaar het ek teruggevlieg om by my pa te kom kuier.

Ek kan onthou, baie goed, hoe ek as seun uitgestap het op daardie wonderlike aand om Londen toe te vlieg: my eerste internasionale bestemming.

Ek onthou hoe ek na die kajuit van die 747 stap om die kaptein en die ingenieur te ontmoet en ook die medevlieënier.

Ek het ’n skakelaar aangesit, die een wat die aankondigingsliggies in die kajuit aanskakel – hulle het dit ’n krismisboom genoem.

Snaaks genoeg – hierdie is ’n cool storie – ek het as 27-jarige as mede-vlieënier ’n jumbo van Johannesburg Internasionaal gevlieg, en dit was presies dieselfde jumbo waarmee ek as kind die eerste keer oorsee gevlieg het.

My ma het bemarking gedoen en events. Sy het opgeëindig as CEO van ’n maatskappy in Amerika.

My ma is dood op 24 Desember 2001. Pa was ’n sakeman en die stigter en een van die hoofbeamptes by ’n klere-vervaardiger. Hy was ook ’n boer in die Paarl.

Ek het drie sussies. Almal ouer as ek. Een bly in Australië en twee pendel tussen die UK en Suid-Afrika.

Ek het ’n 13-jarige dogter en 16-jarige seun. My vrou is van Duitsland. Ons is 20 jaar gelede getroud.

Grant saam met sy familie in Kaapstad, waar hulle
Grant saam met sy familie in Kaapstad, waar hulle tans woon. Van links is sy seun, Cameron, dogter, Jadyn, en vrou, Andrea. Foto: Verskaf

Daar is die waarheid en die storie wat ons vir mense vertel: dat ons ontmoet het toe ek op ’n trip was . . .

Nee, ek grap net, ons het hier in Suid-Afrika ontmoet.

Sy was hier op vakansie. Sy’s terug Duitsland toe en dit was ’n jaar van heen en weer en toe trou ons.

My kinders wil nie in my voetspore volg nie.

My seun beslis nie, en my dogter dalk, maar sy is meer gefokus daarop om ’n dokter te word. ’n Sestienjarige? Wie weet wat hy gaan word. Net die tyd sal leer.

Ek het by die UCT-vliegklub leer vlieg en later’n instrukteur daar geword. Ek het twee jaar vir die Rooi Kruis gevlieg en ’n jaar lank ’n sakeman rondgevlieg. Vir ’n jaar was ek by Airlink voor ek by die SAL aangesluit het.

As ek motiveringspraatjies hou, dan vertel ek hierdie storie: Volg jou droom en leef dit.

My droom was altyd om vir die Suid-Afrikaanse Lugredery te vlieg. Dit was ’n wonderlike 24½ jaar.

My ander passie is seil. Ons plan was om oor vyf jaar, wanneer my dogter uit die skool is, om die wêreld te seil.

Ons gaan dit nou moontlik vroeër doen . . .