Tien jaar gelede het my lewenslustige moeder skielik ’n beroerte gekry. Sedert die beroerte kon sy nie langer alleen woon nie.

Twee jaar lank het ek haar self versorg. My kind was nog klein. Sy moes in daardie tyd vinnig grootword en leer om dingetjies vir haarself te doen, want ouma het hulp nodig gehad met alles, van aantrek tot eet.

Dit het baie stremming op my verhouding geplaas, maar ek het probeer deurdruk, want my ma was nie vir my ’n las nie. Ek wou haar ook nie so laat voel nie.

In ’n stadium het ’n engel oor my pad gekom – iemand wat ’n ouetehuis besit en ’n liefde en passie vir die versorging van ou mense het.

Ek was moeg en uitgebrand en het besluit om my ma in haar sorg oor te gee. Sedertdien maak my ma vooruitgang en borrel sy weer met lewenslus.

Van ons vyf kinders dra net twee maandeliks by vir haar. Die ouetehuis moet betaal word en dan is daar nog toiletware, noodsaaklike medikasie, lekkernye en dies meer wat maandeliks gekoop moet word.

Moedersdae, verjaardae en Kersdae word ál belangriker, veral wanneer ’n mens ouer raak. Oproepe en kuiers word kosbaarder as goud. Dit is waaraan my ma nou waarde heg.

Die ander drie kinders gaan kuier nie by my ma tensy ek hulle daaroor aanspreek nie. Hoe vergeet ’n mens jou ma? Hoe slaap jy met die wete dat sy haar lewe lank na jou omgesien het en jy, wat welgesteld is, nie twee sent per maand aan haar kan afstaan nie?

Dit is nie lekker om ons ma te sien verlang en altyd verskonings te moet uitdink oor waarom haar ander kinders nooit bel of kom kuier nie.

Kan nie verstaan nie.

Skryf aan ons
E-pos hgnbrief@huisgenoot.com. Bydraes vir My Storie moenie langer as 300 woorde wees nie.