FRANCISCA LASZIG (65), SIRKUSARTIES  

Daai gevoel as jy die ­arena op jou high heels binnestap en om jou sit die tent vol mense . . . Jy is mooi ge-make-up en jy dra ’n sexy kostuum. 

Die musiek speel en die mense klap vir jou hande. Dan kry jy daai wow-wow-gevoel van lekkerkry. 

Elke keer as jy gaan vir ’n trick, voel jy die butterflies in jou maag van opwinding. 

Ná 45 jaar in die sirkus is dit show ná show steeds daar. Ai, daai butterflies!

Alles het daar in die middel 1960’s begin toe ek ’n laerskooldogtertjie in Witbank was en my pa my en my broer elke jaar sirkus toe gevat het. 

Ek was sirkusmal! In die laerskool al het ek geweet: Ek wil eendag in die sirkus gaan werk. 

My broer het my gehelp om ’n kabel in ons tuin te span, en ek het begin oefen met balancing acts op die kabel. Ek het myself geleer. 

Tot vandag toe het ek nog nooit enige opleiding ontvang nie. Elke toertjie wat ek doen, het ek myself geleer. 

Ek was in matriek, toe is die Continental-sirkus in Witbank. Ek gaan na hulle toe en sê ek wil join, en hulle sê as ek drie acts kan doen, kan ek vir ’n oudisie kom. En daar kry ek die job!

Dit was so middel 1970’s, toe toer ons Suidwes en show vir ’n week lank in Karibib. In die gehoor was Manfred Laszig, ’n Duitser wat in sy ouers se hotel op die dorp gewerk het. 

Ná 45 jaar in die sirkus is dit show ná show steeds daar. Ai, daai butterflies!

Ná die tyd nooi hy ons vir drinks in die hotel. Hy het met my geflirt en ek het gedink: O, oukei, dis ’n smart ou. 

Maar ek sal nooit met so ’n ou man uitgaan nie, het ek gedink, want ek was 20 en hy 25. Hy was daardie week elke aand by die show om na my te kom kyk. 

Toe skuif ons Swakop toe vir die volgende week, en wragtag, daar ry hy die 150 km soontoe om elke show te kom kyk. 

Een van daai dae toe vat hy my na die Flamingo-hotel vir ete en sê hy wil vir altyd by my wees. 

Ek het gelag en gesê maar ons pak dan môre op en ry verder. Sy antwoord? “Dan gaan ek saam. Ek gaan vir die baas vra ek wil die sirkus join.” En ek het gedink: O hemel, hier kom moeilikheid!

Hy hét gaan vra en hy hét werk gekry – as trokbestuurder. Maar hy moes ook in die ring werk en het as ’n clown begin. 

Hy was ’n natural en die mense het gelê van die lag vir hom. Ons was dadelik ’n couple, maar het eers 10 jaar later in die landdroshof in Tarkastad getrou. 

Hy was, en is nog steeds, my groot liefde. Ons was soos één en het nooit alleen uitgegaan of gekuier nie. Ons was sielsgenote. 

Toe begin ons toertjies saam doen en het oor die dekades as die duo “Manfred and Francisca” opgetree. 

Ons het soveel acts saamgedoen waar die mense nie hul oë kon glo nie. Ons het jare terug hierdie toertjie gehad waar ek 10 darts in sy rug gooi. 

hierdie lewe,sirkusarties
Op 65 beplan Francisca nie om binnekort op te hou werk as sirkusarties nie. Foto: Verskaf

Maar vier jaar later het ons opgehou, want ek het dit nie baie ge-like nie. Die gooi was niks, maar om dit dan weer uit te trek was erg, want dit het altyd so effens vasgesit.

Die ander gewilde een was waar ek ’n paar bottels op ’n tafel stukkend kap. Dan lê hy met sy kaal rug op die glasstukke terwyl ek in my stiletto’s bo-op hom dans. 

As jy nie bang is nie, jou lyf relaxed is en jy dink nie aan die pyn nie, kry jy nie sommer seer nie. Dit is maar ’n kopding. 

Ek was al in so baie ongelukke, ek kan nie eers onthou hoeveel nie.

Die laaste een was in Desember 2018 in Boksburg. ’n Aerial act het verkeerd geloop en ek het 6 m ver geval. Ek het my arm en ’n paar ribbetjies gebreek. 

Die been het sommer hiér deur my vel op my arm gesteek. Ek is uitgedra en moes agter die tent lê totdat die ambulans kom. Maar daardie pyn!

Een van die ergste ongelukke was so 10 jaar terug by Gold Reef City. Ek het in ’n swinging trapeze-toertjie onderstebo gehang toe die belt om my enkel loskom en ek val. 

Manfred het vertel ek het soos ’n lappop ’n paar keer gehop toe ek die grond tref. Hy was dadelik by my en sê my eerste woorde was: “I must go back.” 

Toe raak ek flou. My pelvis was gebreek en ek kon vir maande lank nie werk nie.

Een van die ergste ongelukke was so 10 jaar terug by Gold Reef City. Ek het in ’n swinging trapeze-toertjie onderstebo gehang toe die belt om my enkel loskom en ek val.

Mense vra my baiekeer wanneer gaan ek ophou werk. Ek weet nie, seker nooit nie? Ek vergeet mos hoe oud ek is. God het vir my gesondheid gegee, en daarom sal ek bly werk, want ek geniet dit. 

Ek is nou besig om by die McLaren-sirkusplaas buite Vereeniging aan nuwe acts te oefen. 

Een van dit is ’n balancing act waar ek agterop ’n motorfiets sit wat op ’n kabel ry. 

Suid-Afrika het deur die jare baie sirkusse gehad, en ek en Manfred het by almal gewerk. 

Ons het ook soveel keer by oorsese sirkusse gewerk; ek weet nie meer hoeveel keer nie.

Alles het in 2013 gestop. Ons was by ons huis in Kempton Park toe hy die een aand vir my vra om iets lekkers vir aandete te maak. 

Ek het noodles en chicken gemaak, waarvoor hy baie lief was. Maar toe ek opskep, stoot hy dit weg en sê hy is nie honger nie; hy sal dit môre eet. 

Die volgende dag bly hy opgooi en ek weet hier is fout. Ek bel ’n vriendin om te kom help sodat ons hom hospitaal toe kan vat. 

Sy het bestuur, hy het langs haar gesit en ek agter sodat ek hom kon vashou. In die spieëltjie sien ek hoe val sy bril af. 

Sy oë het so groot geword, so glasig. Dit het bang gelyk. Toe ons by die hospitaal kom, was hy dood. 

Mense vra my baiekeer wanneer gaan ek ophou werk. Ek weet nie, seker nooit nie? Ek vergeet mos hoe oud ek is. God het vir my gesondheid gegee, en daarom sal ek bly werk, want ek geniet dit.

Ons het nie eers geweet dat hy ’n maag­sweer gehad het nie. Dit het gebars. 

Daarna moes ek sonder hom aangaan. Maar hy is nog steeds by my, glo ek. Soms raak ek wakker, dan voel ek sy warm asem in my gesig. 

Partykeer ruik ek sy sigaretrook in die karavaan of by die huis. 

En as ek show en regmaak vir ’n swinging act en ek staan daar heel bo in die tent op die platform, dan kyk ek altyd eers af na die mense. 

Dan voel dit vir my hy is steeds daar onder iewers besig om my dop te hou soos wat hy altyd gedoen het. 

Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.