Ek het in ’n huis grootgeword waar die vrou moet stilbly, want ’n mens vertel nooit vir ander wat agter die gordyne gebeur nie.

Tot ek my in die situasie bevind waar my man hom voordoen as die “beskermer” van sy gesin, maar dit nie die geval is nie.

Saans bid ek die Here moet my beskerm en keer dat hy nie vannag met sy dronk lyf dink ek is wakker en weer seks wil hê nie. Elke keer willig ek in, want ek weet as ek dit nie doen nie, volg dae en weke van emosionele en verbale marteling en afbrekery.

Stelselmatig het die spel begin van “in hierdie huwelik slaan ek die kitaar” en hy moet beheer hê oor almal, anders raak hy van sy kop af.

'Waarom los jy nie die maniak nie?'

Elke beweging word dopgehou, elke sosialemediaboodskap, elke gesels, elke tree, elke denkpatroon, elke gesprek met my kinders. Wanneer ek vir werk moet reis, is ek skaars weg of die afbrekende WhatsApp-boodskappe begin instroom.

Reageer ek nie, word ek gebel. Reageer ek nie en hy is dronk, word ek gedreig en afgejak.

Ná ses en ’n half jaar is feitlik niks van my siel oor nie. Ek praat nie oor dit waarin ek my bevind nie, want ek is so skaam oor wat met my gebeur.

’n Mens weet as jy gaan praat, sal die standaardvraag wees: “Waarom los jy nie die maniak nie?”

Eendag moes ek kies tussen die skaamte wat my lewe oorheers en my van almal isoleer, en die harde werklikheid dat hy my sekerlik sal doodmaak.

Ek het self die deur vir die polisie oopgemaak en dié aand my skaamte ’n doodsteek gegee.

Ek het soveel begrip vir vroue wat nie weet waarheen om te draai nie en op die ou end desperaat optree. Anoniem

Skryf aan ons
E-pos hgnbrief@huisgenoot.com. Bydraes vir My Storie moenie langer as 300 woorde wees nie.