Negentien jaar lank het jy by ons huwelik ingemeng. Elke keer wanneer jy jou mening oor ons huwelik gelug het, moes ek net stilbly. Want ’n mens re­spekteer mos ouer mense.

Jy het jou neus oral en altyd ingedruk. 

Dinge was nie altyd maklik nie. Byvoorbeeld die keer toe ons amper alles verloor het nadat jou familie hom by sake­bedrywighede betrek het. Daarna my pa se dood wat my verpletter het.

Moenie vergeet van my man se drankprobleem nie. God het my gehelp om hom daardeur te kry. Die ergste was seker die ander vrou wat vir hom aanlokliker was as ek. 

Steeds het ek elke keer vergewe en probeer vergeet. 

Jy het jou neus oral en altyd ingedruk.

Deur dit alles het elke liewe ding oor jou seun gegaan. Oor sy toekoms. Ek het myne prysgegee en ’n tuisteskepper geword. Ek het die huis skoongemaak, klere gewas en gestryk en ons kind opgepas. 

Ondanks alles wat ek vir jou seun gedoen het, sien ek vanoggend die bood­skap wat jy aan hom gestuur het: “Skei haar; julle het haar nie nodig nie.”

Hoe weet jy of my kind my nodig het of nie?

Dit was ook my ouers wat haar liefde gegee het. Dit was vir hulle nooit te laat, te ver of te gevaarlik nie. Hulle was altyd gereed om ’n hand by te sit.

Daar waar jy alleen in die ouetehuis sit, wonder ek hoekom jy my huwelik wil vernietig. Hoekom wil jy jou eie kind se lewe verwoes? 

My man, word asseblief wakker. Besef wat voor jou is. Want jy sal iets verloor wat jy nooit sal kan terugkry nie. En dit is liefde.

– Anoniem