In ’n skokbrief skryf ’n jong plattelandse ma aan Huisgenoot hoe sy deur haar eie man verraai is vir sy drankgeld.

Sy erken hulle het finansieel baie swaargekry en dit het haar gedryf om die ondenkbare te doen: Sy het ’n eksplisiete video van haarself vir kosgeld verkoop. Maar dié daad het ’n nare nadraai gehad toe haar alkoholis-man daarvan uitgevind het.

Hy het toe sélf video’s van haar begin neem om sy drankgewoonte te onderhou.

My storie

Hierdie is my storie, oor my lewe in ’n dwarrelwind . . . as ’n kluisenaar.

Ek is die ma van ’n klein dogtertjie, ’n vrou vir my man.

Ek het altyd gedroom van ’n gelukkige huwelik, ’n huis vol liefde, kinders en diere.

Elke meisie se droom, is dit nie?

Ek wil iets deel: Drome is net lugkastele. Nou sit ek in ’n huis met drie slaapkamers en twee badkamers. Kom ons sê: My droomhuis.

Maar my huis val letterlik uitmekaar uit. Nee, my lewe. My huwelik.

Ek het nooit ’n sprokiestroue gehad nie. Ek het ’n binnelandse sake-troue gehad, met ons kind van drie jaar. My eerste huwelik is my man se vierde.

Maar ek het die wolf in skaapsklere ontmoet. ’n Man met ’n masker.

Wat ek wel weet: Ek is sy vrou en ek is baie lief vir hom. Maar sy vrou sal ek nie meer vir lank wees nie.

Aan die begin was my man ’n wonderlike mens. Sjarmant, liefdevol, romanties.

Maar ek het die wolf in skaapsklere ontmoet. ’n Man met ’n masker.

My man is ’n volslae alkoholis. Hy drink ons hele inkomste uit. Hy gee nie ’n duit om of ons gaan eet of nie. Hy sal my bel: ‘Ek soek ’n dop. Dit moet daar wees as ek by die huis stop. Oukei?’

Ek vra dan: ‘En wat maak ek om te eet?’

Dan kom die gevreesde woorde. ‘Ek gee nie om nie. Ek soek my dop, dis al’

Geld vir kos

Dinge het kort na ons sogenaamde troue begin skeefloop. Daar was nie geld vir kos nie, nog minder vir dop.

Ek het ’n besluit gemaak waaroor ek elke dag jammer is. Ek het op moedverloor se stoep ’n dom besluit gemaak.

Ek het ’n kennis van 20 jaar gelede gekontak. Ek het ons situasie verduidelik. My kennis sê toe: ‘Ek sal help. Ek sal elke week R500 stuur, maar jy stuur vir my elke week ’n video van jouself . . .’

Ek het dit gedoen. Net die een keer. Ek sit nou met my kop in my hande. Ek voel skaam om dit te skryf.

My man het daarvan uitgevind. Ek het my man gebreek, sy vertroue in my geskend. My man het gesê hy gaan my skei en ons kind saam met hom vat. Ek gaan hulle nooit weer sien nie.

Jy soek jou brandewyn, my man. My kind soek kos. Wat moes ek doen?

‘Ek gaan seker maak dat almal weet wie en wat jy is. ’n Slet, ’n manne-verneuker.’

My man, ek het die kennis 20 jaar terug gesien, my man. Ek was op moedverloor se vlakte. Ek het dit vir kos en krag gedoen, nie vir plesier nie.

Jy soek jou brandewyn, my man. My kind soek kos. Wat moes ek doen?

Ek kan nie met jou praat nie. Jy skree op my, jy vloek my as jy dronk is. Jy sê my so sleg. Ek het dit vir ons en ons kind gedoen, my man. Vir kos, nie vir my vir plesier nie.

Meer video's volg

Hy was baie seergemaak, seergemaak tot vandag toe. Ons huwelik is en was nie meer nie, nie na wat gebeur het nie. Ek het dit nooit vir my man weggesteek nie, maar toe word daar van my verwag om meer video's te maak.

Hoe meer ek gesê het: Ek wil nie, hoe meer is gesê: ‘Kom, jy het dit mos al gedoen. Nou kom, ons kan baie geld maak deur jou video's.’

Ek wil nie, my man.

‘Jy sál, my vrou, anders vertel ek vir almal in die dorp watter tipe mens jy is. ’n Slet.’

Eendag het hy aangekondig: ‘Raai wat, my Blommie? Ek is finaal klaar met jou. Ek gaan jou skei.’  

Maar hy het my nie dadelik geskei nie.

Hy het my eerder gedwing, gedreig en gemanipuleer om nog steeds video's te maak. Hy soek geld, meer geld.

‘As jy my regtig liefhet, en jammer is oor dit wat jy gedoen het, sál jy dit doen.’

Ek het vir hom gesê: ‘My man, as jy lief is vir my en my vergewe het, sal jy dit nie van my verwag nie.’

My man het begin video's neem. Hy het gesê dis vir hom, maar dit was nie.

Hy het meer begin drink, meer deurmekaar gedrink. En hoe meer hy gedrink het, hoe meer het die verbale aanrandings gekom.

Dit het so erg geraak dat ek eerder doof en blind sou wou wees.

My man was al menigte male in die hospitaal as gevolg van sy drankprobleem. Dit het hom nie afgesit van drank nie. Inteendeel, dit het hom net meer laat drink.

As jy dit nie doen nie, is jy nie lief vir my nie.

Hy het sy werk verloor.

Dit het so erg geraak dat hy gesê het ek moet begin plan maak. Hy soek sy brandewyn.

Die video’s het aangehou. Die dreigemente. ‘As jy dit nie doen nie, is jy nie lief vir my nie. Ek sal jou breek, jou naam sal niks meer beteken nie.’

My man het eindelik nuwe werk gekry in ’n ander dorp. Hy moes weg van die huis werk en sou elke tweede naweek huis toe kom.

‘Jy is nie alleen nie’

Eindelik het ek die moed gehad om van hom te skei.

Hoekom vertel ek al hierdie goed oor?

Vrou of man. Jy wat dit lees, as jy in dieselfde of soortgelyke situasie is: Jy is nie alleen nie.

Jy kan uitkom. Moenie vasgevang wees in ’n wrede kringloop van manipulering en afpersing nie. Jy is meer werd as dit. Ek het my man baie lief. Ek het hom baie seergemaak. Ek dra al die skuld. Ek weet die beëindiging van ons huwelik is ten volle my skuld.

Daar is al vir my gesê ek is die oorsaak van sy drankprobleem.

Ek kon net nie meer die gevloek, die slegsê voor ons kind hanteer nie.

Hy drink nog steeds. Hy vloek my nog steeds.

Maar ek wil sê: vrou of man. Daar is nog hoop vir jou, jy is meer werd as dit. Jy kan dit stop, red wat te redde is met jou verhouding tussen jou en jou kinders. Jy is niemand se slaansak nie.

Julle as ouers, dink aan die kinders.

My man is ’n duiwel, ’n wolf in skaapsklere. Jy hoef nie so te lewe nie. Ek wens ek kon jou help. Ek wens ek kon my huwelik terugkry.

Ek bid vir jou. Wees sterk. Jy is nie alleen nie. Daar is baie van ons."

  • Die leser se identiteit is aan Huisgenoot bekend, maar word weerhou om haar te beskerm.
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitter en Facebook en teken gerus in op ons nuusbriewe.