Hier word kinders soos hy in hoofstroomskole geplaas en geïgnoreer. So baie ouers spog graag met hul “normale” kinders se prestasies.

Maar te dikwels is ouers van kinders met spesiale behoeftes skaam om oor hul mylpale te spog, want dis kwansuis onbenullig vergeleke met die prestasies van “normale” kinders.

Die seuntjie in my klas is nie dom nie; hy het bloot ander behoeftes en verstaan en ervaar dinge anders.

Ek doen niks spesiaals nie; ek erken sy teenwoordigheid. Ek groet hom, high-five hom en gesels ’n paar woordjies.

Hy reageer soms glad nie of hardloop weg. Ek probeer altyd iets in die klas hê om hom te stimuleer.

Wanneer hy tydens klasse rondhardloop en geluide maak, praat ek met hom asof ek verstaan wat hy sê.

En ek is baie lief vir hom.

Vandag het my nieverbale, outistiese seuntjie ’n nuwe woordjie gesê, hard en duidelik: “Joha.” Mý naam. Met die grootste glimlag.

Ek wou bars van geluk en trots. En ek wil spog met hierdie ongelooflike kwylbekkie wat so ’n impak op my lewe maak. Mammas, spog met jul spesiale kinders.

As jou outistiese kind wat nie verbaal is nie skielik ’n woord sê, mág jy maar spog.

Hy het dalk nie soos die bure se Piet ’n wendrie in die skolerugby gedruk nie, maar wat hy vermag het, was ewe uitdagend en fantasties.

Jul spesiale kinders is flippen ongelooflik en hul mylpale is nooit te onmerkwaardig om genoem te word nie.

– JOHANETTE PELSER

Skryf vir ons
  • E-pos hgnbrief@huisgenoot.com.
  • Menings wat hier gelug word, is nie noodwendig dié van die redaksie nie.
  • Die skrywer van die wenbrief kry R300.