Maar vandag het dié dag uiteindelik aangebreek: Die dag waarop regter Ronald Hendricks eindelik begin om sy uitspraak in die Mmabatho-hoogeregshof in Noordwes in die opspraakwekkende Stella-moordverhoor te lewer. Die dubbele moordverdagte Xander Bylsma, is enkele maande voor sy 21ste verjaardag in in hegtenis geneem. 

Regter Hendricks het twee dae vir die uitspraak opsy gesit – Maandag 17 Februarie en Dinsdag 18 Februarie.  

Maar of dié woorde “skuldig” óf “onskuldig” vir die families van die boesemvriendinne Sharnelle Hough (17) en Marna Engelbrecht (16), van Stella in Noordwes, sal afsluiting bring is ’n ope vraag.

Sharnelle en Marna is albei in die oggendure van Saterdag 26 Mei 2018 wreed in die meisieskoshuis van die Hoërskool Stella vermoor. Albei is verwurg.

Marna Engelbrecht (links) en Sharnelle Hough is in die meisies- koshuis van die Hoër­skool Stella vermoor

Sharnelle se lewelose liggaam is later die oggend aangetref waar sy aan die trapreling hang. Marna se lyk is op die grondvloer se badkamer aangetref met ’n handsakband om haar nek.

Die staat het aangevoer Xander was jaloers en kwaad dat Sharnelle, sy eksmeisie, ’n nuwe liefde het. Hy het volgens die staat geglo Marna, wat ook sy kleinniggie is, skaar haar by Sharnelle om hom nie nog ’n kans te gee nie.

Huisgenoot se nuusredakteur in Gauteng het met die Huisgenoot-joernalis Jana van der Merwe oor haar pad met die Stella-saak gesels.