Op die agtergrond kan ek hoor hoe hulle huil. 

Ek gryp twee bababekers met aanmaakkoeldrank en ’n pak kaaskrulle. Dis al wat ek op die oomblik in die huis het. 

Op pad soontoe bel ek die pleeg­moeder van ’n pleeghuis en laat weet haar ek bring twee dogtertjies.

In die welsynskantoor sien ek die twee se gesiggies is rooi gehuil. In my lewe het ek nog nie sulke vuil kinders gesien nie.

Hul voete was swart van die vuilheid. 

Ek steek my arms uit na die baba en sy kom dadelik na my toe. 

Haar trane droog op toe sy met haar koppie teen my bors lê. Die welsynswerker sê ons moet ry.

Ek sit agter by die kinders terwyl my man bestuur. Ek gee vir hulle die koeldrank en kaaskrulle.

Die baba sluk gulsig en hou nie op voor die beker leeg is nie. Die sussie voer die baba kaaskrulle.

Dis iets wat sy gereeld moes doen, besef ek.

“Tannie, my hartjie is stukkend, stukkend; ek het nie meer ’n mamma nie,” sê die oudste vir my.

Ek troos haar en sê waarheen ons gaan, is daar ’n mamma wat stukkende hartjies heel maak. Sy vra of daar ligte is.

Ek sê daar is baie ligte. 

Ek sien in die truspieëltjie hoe die trane oor my man se wange rol. 

Toe ons by die hek inry, is die ligte op die stoep en in die tuin aan. Dankie, Here, sê ek saggies. 

Die pleegmoeder staan op die stoep en wag ons in. 

“Kyk die ligte en kyk die tannie. Sy is ’n engel,” sê die oudste in verwondering.

- Anoniem 

Skryf aan ons
  • E-pos hgnbrief@huisgenoot.com.
  • Briewe moenie langer as 200 woorde wees nie.
  • Menings wat hier gelug word, is nie noodwendig dié van die redaksie nie.
  • Die skrywer van die wenbrief kry R300.
Kom neem deel aan die gesprek