Jeff Coetzee (43), tennisspeler en direkteur van Tennis SA

Okiep is vol klippe. Alles daar is net grond. Ek en my broers moes al die klippe in ons agterplaas uithaal om die grond ’n bietjie gelyk te maak sodat ons daarop kon tennis speel. Ons het ’n pik gevat om ’n lyn te trek en ’n streep sand daarop gegooi om die middellyn te maak.

Met leë lemoensakkies het ons ’n net gemaak en ons rakette het ons uit hout gesaag.

Dan het ons kaalvoet by die huis op ons baan tennis gespeel. Ek was baie kompeterend.

As ek teen my broers verloor het, het ek in die huis in gehardloop en in die kas gaan sit en huil.

Dis waar ek begin tennis speel het. Ek was nege jaar oud. Later het my broer vir my gesê ek begin goed slaan en moet deelneem aan toernooie.

Ek het later toernooie in Okiep begin wen. Ek het teen baie oorsese mense wat na ons myndorpie gekom het, gespeel.

Maar ek kon nie daardie tyd baie ver gaan in Okiep nie as gevolg van my velkleur.

Ek is toe raakgesien deur tannie Oumies en is deur die destydse SA Tennisfederasie gevra om Johannesburg toe te gaan, want ek kon nie in Okiep bly en ’n tennisloopbaan hê nie.

My pa het Parkinson’s disease gekry net voor ek Johannesburg toe getrek het.

Hy het op sy siekbed gelê en hy en my ma het besluit as ek eendag tennis wil speel, moet ek nou die kans vat. Ek was 12 jaar oud toe ek uit Okiep na Johannesburg trek.

Dit was aan die begin moeilik om weg te gaan van my familie af. Ek het my ma-hulle gereeld gebel en hulle elke paar maande gesien.

Okiep is ’n klein dorpie in die Namakwaland en nou is ek in ’n stad. ’n Groot stad. Ons het daai tyd net TV1 op Okiep opgevang.

En al sport wat daarop was, was Wimbledon. Toe ek klein was, het ons almal dit op TV1 gekyk. Die mense op die dorp het Wimbledon gekyk en almal het die spelers geken.

Ek onthou ek het my ma eenkeer gesê ek sal graag eendag daar wil gaan speel.

Dit was my groot droom.

My ma was ’n huisvrou op Okiep en my pa het in die kopermyn daar gewerk. Ek was 16 toe my pa dood is. Die myn op die dorp is ook nou toe.

Toe ek op 12 van die huis af is, het ek Okiep min gesien.

Ek het Durban, Johannesburg en oorsee ge-travel om tennis te speel. Vier jaar terug het my ma Kaap toe gekom vir treatment.

Ek het haar voor dit baie min gesien.

Sy wou naby my wees. Sy het in die Strand by my ander suster gaan woon, en ek woon in Somerset-Wes.

My ma het toe ovarian cancer gehad. Sy was net vier maande in die Kaap, toe sterf sy.

Ek dink sy het geweet sy het nie meer lank om te lewe nie. Sy wou Kaap toe kom om vir my bye te kom sê. Sy was ’n sterk vrou.

Sy het geboorte gegee aan 10 kinders. En al tyd wat sy by die hospitaal was, was om te kraam.

Sy het haar eie kruie en medisyne gemaak. Haar naam was Mary, maar almal het haar antie Blom genoem omdat sy ’n groot tuin gehad het.

Sy’t altyd vir almal van haar mooi blomme gegee. Sy’t altyd haar kos ook weggegee. Die mense daar is soos my ma.

Hulle deel altyd en het daai vriendelikheid. Oe, en afval eet is groot daar. Jy is nie ’n Namakwalander as jy nie afval eet nie. My vrou is ook van Okiep.

Ons gaan kuier so een keer ’n jaar daar en ons geniet dit steeds baie. Maar die kinders speel nie meer tennis daar nie.

Jeff op die tennisbaan. Foto: Reg Caldecott/Gallo
Jeff op die tennisbaan. Foto: Reg Caldecott/Gallo Images/Getty Images

Wimbledon is deesdae op DStv en die mense daar speel nou rugby. Apartheid was moeilik.

Ek was nog ’n kind en kon dit nie eintlik verstaan het nie.

Ons was eenkeer in Durban en ek kon nie see toe gaan nie en ek kon dit nie verstaan nie. As mense vir my lelike goed oor my velkleur gesê het, het ek niks gesê nie.

My ma het my altyd gesê: “Laat jou raket die praatwerk doen.”

Apartheid was een van daai struikelblokke wat ek met my raket oorkom het.

Dit het my nie teruggehou nie. Ek het apartheid as ’n challenge gesien en ek hou van challenges.

Ek was later die topjuniorkampioen in SA.

In 1996 het ek ’n professionele tennisspeler geword en het in Mexiko my eerste pro-toernooie as professionele speler begin.

Ek het later die top-20 in enkels wêreldwyd as ’n junior gehaal.

‘Apartheid was ’n struikelblok wat ek met my raket oorkom het’ 

Maar toe kry ek ’n paar beserings en besluit om te begin dubbels speel. Ons was op ’n tyd nommer 12 op die dubbellys in die wêreld.

Toe haal ons in 2003 die semifinals in die Australiese Ope. Ek het terug huis toe gekom en my vrou gesê ons moet bietjie op Okiep gaan kuier.

My suster en my twee nefies was ook in die kar. Op pad na Okiep het die kar se wiel gebars. Ek onthou nie baie nie.

Ek het in die pad wakker geword met mense wat gesê het hoe hulle my 10 dae terug op TV op die Australiese Ope gesien het.

My vrou het net ’n paar stitches gekry en my heup het uitgehaak. Ek het my been en knie beseer.

My nefie, my jonger suster se kind, is dood in die karongeluk.

Hy was net vier jaar oud. Hy was ons klein engeltjie. Hy was vreugdevol.

Ek het myself blameer vir sy dood. Ek moes weer leer om te loop. Ek kon vir vyf maande myself nie eens was nie.

Maar dit het my sterker gemaak en ek het lank gevat om te besef dat ek moet aangaan met my lewe.

My vrou het my baie deur dit gehelp.

Vyf jaar ná die ongeluk het ek weer die Australiese Ope se semifinals in die doubles gehaal.

En ek het daardie jaar ook die land verteenwoordig in tennis by die Olimpiese Spele in Beijing.

Twee jaar daarna het ek besluit om af te tree.

Die beserings van daardie ongeluk buite Okiep het baie wear en tear veroorsaak.

Ek het dit nie meer geniet om tennis te speel nie, want dit was pynlik.

Ek het steeds wedstryde gewen, maar ek het dit nie geniet nie.

Ek het soggens opgestaan en pynpille gedrink. Nou is ek eerder in ’n administratiewe pos.

Ek is in Januarie vanjaar aangestel as die direkteur van Tennis Suid-Afrika.

Saam met die Suid-Afrikaanse Davisbeker-span. Foto
Saam met die Suid-Afrikaanse Davisbeker-span. Foto: Peter Heeger/Gallo Images/Getty Images

In 2013 het ek ook twee Colombiaanse tennisspelers begin afrig.

Ek rig hulle steeds af. Ek is baie trots, want hulle het verlede jaar by Wimbledon en die US Open gewen.

Ek travel so 25 weke ’n jaar met hulle op hul toer. Dis nie maklik nie.

Maar ek het gelukkig nou baie tyd met my vrou en Gabriella, my dogtertjie, sy is sewe, by die huis in lockdown ge-spend.

Jeff geniet dit om in die inperkingstyd meer tyd s
Jeff geniet dit om in die inperkingstyd meer tyd saam met sy vrou, Mauricia, en hul dogter, Gabriella, deur te bring. Foto: Verskaf

Ons het nou so ’n klein area by die huis waar ek en my dogter tennis speel.

Sy is nes ek. Sy hou nie van verloor nie, so dan laat ek haar maar soms wen.

My dogter is baie lief vir lemoene.

So, my vrou het leë lemoensakkies gevat en het vir ons ’n tennisbaan gemaak waar ons kan tennis speel.

En toe dink ek, wow, ek gaan nou eintlik terug na my roots op Okiep met die lemoensakkies waar ek destyds as kind agter in die jaart gespeel het.

Waar dit alles begin het. 

Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe.