Met sy ma se onwankelbare liefde en steun het dit gelyk asof sake vir Akshay verbeter. Maar maande nadat ons met hulle gepraat het, het ’n tragedie gebeur.

Nou sukkel Nirupa om berusting oor die verlies van haar slim, mooi seun te vind.

Sy vertel haar storie.

“Ek was daar toe hy geboelie is. Ek was daar toe hy erken het hy is gay. Ek was daar deur sy depressie. Ek was daar deur al sy selfdoodpogings. En ek was daar op die tragiese einde.”

Vir die artikel wat op 14 Januarie 2016 in die tydskrif YOU gepubliseer is, “I’m Here For My Son”, het ons oor Akshay en sy reis as ’n gay jong man in ons samelewing gepraat.

’n Babafoto van Akshay Maharaj. Foto: Verskaf

Hy was toe 33. Die rede vir die artikel was eerstens om ouers te wys ons kan nie ons kinders verlaat nie, ongeag die verskille in hulle. Ons het baie van Akshay se kinderjare gedek, waarin hy verskriklik afgeknou is, veral op skool. Akshay het met depressie geworstel en meermale sy eie lewe probeer neem.

Maar in 2016, namate die depressie vererger het, het Akshay stadig lewensmoed verloor en in ’n donker gat weggeskink. Tog het hy sy wonderlike werk as grimeerkunstenaar voortgesit. Hy het net elke dag opgestaan, geglimlag, gelag en voorgegee alles is gaaf met die lewe.

En dan sou hy as ’n heel ander mens terugkom, terneergedruk en nors. Akshay was by baie mense geliefd; hy het lig uitgestraal oral waar hy gegaan het. Hy het altyd mense met probleme vertroos en heeltemal vergeet hy het baie van sy eie.

Hy het aangehou om sy medisyne te drink – wat vir my geen verskil gemaak het nie. En so het die jaar 2016 by ons verbygegaan.

Op 28 Desember was Akshay in ’n katatoniese staat met al sy medikasie en het hy besluit om op die strand te gaan stap. Daar is hy beroof en aangerand.

Dit was ’n pynlike dag toe die polisie by my deur opdaag met my ernstig aangerande kind. Hy moes duidelik hospitaal toe geneem word om vir die wonde behandel te word en is toe na ’n psigiatriese hospitaal gestuur waar hy amper 10 dae lank gebly het.

Drie dae ná die roof het ons ontdek Akshay se bankkaart is gekloon en elke sent is uit die rekening onttrek.

Dit het Akshay natuurlik nog meer laat stres, want ons het geen toegang tot geld gehad nie en toe gaan ons 2017 binne.

In Desember 2016, drie maande voor Akshay oorlede is, het hy gesê: “Ma, ek wil op my eie woon; ek het my ruimte nodig.”

Soos altyd sou ek hom nooit toelaat om te ver van my af te woon nie sodat ek ’n ogie oor hom kon hou. Toe kry ek vir hom ’n woonstel in my blok, nege vloere onder my.

Nirupa en haar seun, Akshay Maharaj, wat in Februarie 2017 oorlede is. Foto: Verskaf

Ek sal daardie maand nooit vergeet nie – hy was so gelukkig. Ons het vir sy nuwe blyplek inkopies gedoen en dit laat meubileer en hy het oukei gelyk. Ek het hom steeds elke dag gesien, want ons het altyd saam aandete geëet.

Hy het aanhou werk, maar ek kon sien hy gaan agteruit. In Januarie 2017 was hy in en uit by die hospitaal weens depressie. ’n Week voor sy dood het hy vir ’n my ’n lang boodskap gestuur waarin hy vir my sê hoe lief hy vir my is, my bedank vir alles wat ek vir hom gedoen het, my voorspoed toewens en sê ek moet sterk bly en aanhou om mense in nood te help.

Aan die einde van die boodskap het hy gesê: “Tot siens, Ma, ek wil nie met jou praat nie.”

As sy ma het ek gedink hy het ’n bietjie ruimte nodig en sou ek hom dit gee tot hy my weer nodig het.

Maar ek kon nie meer verkeerd gewees het nie. Op 21 Februarie 2017 het die grusaamste, pynlikste ervaring gebeur. Dit was seweuur en op daardie aaklige oggend het my moedersinstink ingetree en is ek na sy woonstel toe.

Selfs by die deur het my seun my daarteen beskerm om in te gaan (’n stemmetjie in my kop het STOP! gesê). Ek het die polisie gebel, en, liewe vader, die afbreek van die deur weergalm steeds in my kop.

Ek het hom op die kombuisvloer gekry. Hy was in ’n sittende posisie – en vir my het dit gelyk asof hy geval en hom beseer het.

Die res is taamlik onduidelik, want ’n paar uur later moes ek hoor hy is nie meer daar nie. Blykbaar het hy op ’n glas water gegly en sy slaap teen die rand van die opwasbak gekap. Dit is hoe my pragtige Akshay oorlede is.

Dit was vir my ’n baie moeilike 10 maande, maar ek het besluit my seun sou wou hê sy ma moes soveel moontlik mense soos hy van die tragiese einde red.

Akshay Maharaj en sy ma, Nirupa. Foto: Verskaf

Ek is sedertdien baie passievol en aktief. Ek staan onderhoude toe om die boodskap te versprei dat ouers en die samelewing meer aanvarend moet wees.

Ouers moet kommunikasiekanale oophou en na hul kinders luister, want in hierdie besige samelewing met besige lewens word kinders dikwels geïgnoreer tot iets drasties gebeur.

My enigste doelwit is nou om ’n stigting tot Akshay se nagedagtenis te stig, ’n steungroep vir LGBT’s te begin sodat hulle ook hul plek in die samelewing kan vind en almal daaroor opvoed. Ek skryf nou ’n boek en het onlangs ’n digbundel voltooi wat ek hoop om binnekort te publiseer.

Ek glo as ek een mens kan help, het ek geslaag.”

Die storie is vir Huisgenoot ingestuur en effens geredigeer. Het jy ’n storie wat jy wil deel? Stuur dit per e-pos na web@huisgenoot.com.