Die twee bly saam met hul kinders Alex (5) en Jack (3) langs die Krokodilrivier binne die park, sowat 13 km vanaf Malelane.

Sy is ook bekend vir haar blog, Our Life In Kruger, waar sy staaltjies van haar en haar gesin se doen en late met die publiek deel.

“Ek moet wel nog gewoond raak daaraan om die wildtuin so sonder besoekers te sien,” vertel sy telefonies aan Huisgenoot.

“Omdat die kinders gewoond daaraan is om elke dag skool toe te gaan en Steven toeriste vier dae per week op staproetes neem, was daar sommer gou ’n gevoel van cabin fever onder die drie manne!”

Hiervoor het hulle egter ’n plan gemaak, en spandeer nou baie buite-tyd saam met die seuns.

“Soggens gaan soek ons voetspore in ons tuin en in die grondpaadjie wat voor die huis verbyloop,” sê sy. “Dit is groot pret vir die kinders om die voetspore te probeer identifiseer en uit te figure watter diere die vorige nag naby ons huis was.”

Die kleine Jack se eerste woord was “olifant”.
Die kleine Jack se eerste woord was “olifant”.

Steven het ook vir die jongspan ’n swaai gemaak deur ’n ou toiletdeksel met toue aan ’n boomtak vas te maak. Terwyl die seuns laatmiddag pret op die tuisgemaakte swaai het, maak die ouers ’n vuurtjie en wag vir die kole om te kan braai.

“Daar is niks soos ’n lekker braai om die cabin fever te genees nie!” sê sy.

Sommer kort nadat Suid-Afrikaners gehok is, moes Linda na Malelane gaan vir noodsaaklikhede. Die kleine Alex wou saamgaan, soos wat hy altyd doen, maar Linda het gesê weens die coronavirus kan hy nie.

Toe antwoord hy heel bekommerd: “Mamma, daai corona is ’n monster, nè?”

Sy sê waar die paaie in die wildtuin altyd vol voertuie is, is daar nou net diere in die pad.

“Hulle het nie social distancing nodig nie. Lockdown tel nie vir hulle nie! Dis eintlik wonderlik om te sien hoe hulle nou skielik uit die bos kom en die paaie weer vir hulself toeëien. Vir my is die social distancing-ding moeilik, maar gelukkig het ons die diere in die park om ons geselskap te hou.”

Daar is nooit ’n vervelige oomblik in die bos nie, sê sy en Steven mos altyd . . .

Besoekertjies soos skilpaaie en reuse slakke kom b
Besoekertjies soos skilpaaie en reuse slakke kom besoek hul tuin gereeld. Die seuns dink dit is baie oulik en wil die diertjies net die heeltyd streel.

Soos die geval voorverlede Vrydag was toe sy wasgoed moes gaan ophang. Net toe sy die deur oopmaak, hoor sy ’n geluid vanaf die dekoratiewe metaalakkedis wat langs die deur hang, en toe voel sy iets wat op haar skouer val. Sy kyk, net betyds om te sien hoe ’n slang van haar skouer afval en vinnig uitseil.

“Ek het groot geskrik en ’n paar grys hare bygekry, en al wat ek kon uitkry is om my man te roep en te skree ‘slang, slang!’ Hy het dadelik buite gaan kyk en die slang op die grasperk gesien. Dit was toe al die tyd maar net ’n skaapsteker, wat glad nie giftig is nie.”

Die twee seuns, Alex en Jack, is gaande oor die wi
Die twee seuns, Alex en Jack, is gaande oor die wilde diere naby hul huis. Linda skerts en sê hulle weet niks meer as “olifante kom na die huis toe”, “hiënas is stout”, en “wilde honde stink”. Dit is hulle normaal en vir haar is dit wonderlik dat hulle in so ‘n omgewing kan grootword, vertel sy.

Maar dit is nie altyd net skrikmaaktyd nie, maar ook lagtyd.

Toe die gesin die afgelope Saterdag buite in die tuin was, hoor hulle skielik ’n lawaai vanaf hul heining. Hulle gaan kyk, en sien toe dit is ’n groot vlakvark wat met alle geweld onderdeur die heining in hul erf wil inkom.

“Dit was vrek snaaks om te sien hoe die vark ewe ywerig ’n pad met sy neus probeer oopgrawe. Sonder sukses. Toe ons uitbars van die lag, toe hardloop hy stert in die lug weg!”

Linda sê sy het die volgende dag gesien hy probeer weer onderdeur die heining kom.

“Ek weet nie hoekom trek ons tuin hom so aan nie. Hier is niks om te eet nie.

“Maar miskien is dit maar daai ding van die gras is altyd groener anderkant die draad.”

Linda en Steven

As dit nie vir die Nederlandse lugredery KLM was nie, sou Linda en Steven mekaar dalk nooit ontmoet het nie. Sy het as ’n lugwaardin vir die lugdiens gewerk, en in 2001 het hulle vir drie dae in Johannesburg oorgestaan.

Sy en van haar kollegas besluit toe om in dié tyd op ’n safaririt in die Bosveld te gaan.

“Net daar raak ek verlief op die natuurskoon en die dierelewe,” vertel Linda. Daarna het sy gereeld tydens haar jaarlikse verlof op verskillende plekke en kampe in die bosveld en in die Krugerwildtuin gaan kuier, en so ook baie vriende gemaak.

In 2001 kuier sy by vriende in Sabie, waar sy toe ook vir Steven ontmoet het. Die twee het dadelik van mekaar se geselskap gehou, maar hulle het net vriende gebly.

“Maar ek het tog gedink hy is cute en dat hy mooi bene het!” verklap Linda nou terwyl sy lekker lag.

Tydens een van haar jaarlikse kuiers in 2011 was hulle weer een aand saam by ’n braai van gemeenskaplike vriende, toe die twee na die tyd besluit om ’n ent op sy motorfiets te gaan ry om na die sterre kyk.

“Ons het op ’n brug gestop, toe sê hy daar is iets in sy oog en ek moet kyk. Toe soen hy my! En van toe af was ons nie meer net vriende nie!”

Die twee is vroeg in 2014 by die Roodewal Boskamp in die Krugerwildtuin getroud waarna Linda Suid-Afrika haar permanente tuiste gemaak het.

Linda en Steven is in Maart 2014 by die Roodewal B
Linda en Steven is in Maart 2014 by die Roodewal Boskamp, naby Satara, getroud.

Haar ouers sou hoeka nou in hierdie tyd kom kuier het, maar moes hul planne weens die inperking kanseleer. Maar Alex mis sy Nederlandse oupa en ouma. Net nou die dag sê hy vir sy ma: “Ek wil gaan met die vliegtuig, ek wil vir oupa en ouma gaan kuier.”

Ná die geboorte van haar jongste seun het Linda besluit om met haar “Our Life In Kruger”-blog te begin.

“Eintlik het dit as ’n joernaal begin, iets wat ek eendag vir die twee seuns kan los om te lees. Ek dokumenteer dinge wat met ons gebeur, sodat wanneer die kinders dit lees en dan terugkyk, moet hulle kan sê ons lewe was só buitegewoon.”

"Ek dokumenteer dinge wat met ons gebeur, sodat wanneer die kinders dit lees en dan terugkyk, moet hulle kan sê ons lewe was só buitegewoon.” Foto: facebook.com/ourlifeinkruger
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitter en Facebook en teken gerus in op ons nuusbriewe.

Maar sedert die huidige inperkings in werking gestel is, het ál meer lede van die publiek wat in hierdie tyd die Krugerwildtuin sou besoek, haar blog begin volg. Net om darem iets van die Kruger te kan ervaar . . . 

Foto's: Facebook, verskaf