Weens haar sien ek my seun en kleinkind drie jaar lank nie. Sy steek ’n stokkie daarvoor elke keer dat ek hulle probeer kontak.

Toe, op ’n dag, begin my seun se lewe uitmekaarval. Hy beland in die tronk. My deur is die eerste waar hy aanklop. Met my karige pensioen betaal ek die advokate.

Ek koop lugtyd en sigarette terwyl hy in die tronk is. Van agter die tralies vertel hy my hoe hy my op die hande gaan dra wanneer hy daar uitkom. Hy belowe hy sal weer werk as hy vrygelaat word, en dan is ek die eerste op sy lys om terug te betaal.

Hy sê hy het sy hart vir die Here gegee. Die dag van sy borgaansoek betaal ek die borgtog en gee hom die laaste geld wat in my rekening was.

In my hart hou ek vas aan sy beloftes. Maar daarvan kom niks. ’n Paar maande later loop ek weer deur onder sy kwetsende tong.

Hy sê vir my ek moenie weer met hom kontak maak nie. Ek moet ook nie weer bel nie. Dit word in ’n SMS herhaal. Buiten my hart is my bankrekening ook gebreek.

Ek het nie meer ’n sent op my naam nie. Ek kan nie eens my chroniese medisyne betaal nie.

Ek bekommer my dood oor my kind wat steeds in daardie vrou se web vasgevang is, oor my kleinkind wat naweke moet toekyk hoe die drankbottels die een ná die ander leeggemaak word.

In my binneste wonder ek: Hoe kan ’n kind so met sy ma maak? Maar in my binneste weet ek ook God slaap nie.

– Anoniem

Skryf aan ons