Dit is ’n outo-immuunafwyking waar die immuunstelsel die hele liggaam as die vyand beskou en al die organe, bene, bloed, brein, senuweestelsel en vel aanval. Ek het ook al my hare weens die SLE verloor. Die siekte is ook by Selena Gomez gediagnoseer en haar beste vriendin het vroeg in 2017 een van haar niere aan haar geskenk.

Ek het op 26 September 2017 ’n derde groot rugoperasie ondergaan. Ek het toe reeds twee heupvervangings, twee rugoperasies en ’n operasie waar limfnodes en ’n ovariale gewas verwyder is, ondergaan, asook ’n paar kleiner operasies wat met lupus verband gehou het. Ek moet mettertyd ook twee skouer-, knie- en enkelvervangings as gevolg van vaskulêre nekrose ondergaan.

Alle moontlike toetse is voor die tyd gedoen om seker te maak my liggaam is gereed vir die groot operasie. Ná ’n suksesvolle rugoperasie is ek na die hoësorgeenheid geneem. En toe begin ek sukkel om asem te haal. Al wat ek kan onthou, is hoe desperaat ek vir suurstof was.

Wat veronderstel was om hospitaalverblyf van drie dae te wees, het toe amper ’n hele maand geword.

Ek het water op my longe gehad. Terwyl ek onder verdowing gehou en aan masjiene en pype verbind was, het ek in daardie tyd 'n ongelooflike geestelike ervaring gehad. Iets geheel en al bomenslik.

Foto: Verskaf.

My liggaam en siel was in daardie tyd van mekaar verwyder. God het beloof Hy sou my gesond genoeg maak om uit die hospitaal ontslaan te word, maar Hy het aan my gesê Hy gaan nie my lupus wegneem nie, want dit is vir my 'n blessing.

Ek was so verward. Maar hy het nie moed opgegee met my nie. Hy het ’n plan gehad en ek en my boek was deel daarvan. 

Die Heilige Gees het deur my my hele outobiografie in die hoësorgeenheid in twee uur geskryf. Toe ek uit die hoësorgeenheid is, het ek met 'n skok begin om stukkie vir stukkie van die legkaart aanmekaar te voeg en te probeer sin maak van dit alles.

Die skrywer Maretha Maartens het my in die hospitaal besoek. Wat 'n pragtige Christen-vrou.  

Sy het my gevra om my storie te tik en vir haar te stuur wanneer ek by die huis is. Dit het my 29 dae in die hospitaal geneem om te verstaan wat die Here wou hê ek moes doen.

Foto: Verskaf.

Volgens die MRB- en CR en CAT-skanderings was die linkerkant van my brein so erg geraak dat ek arbeidsterapie aan my hele regterkant sou moes ondergaan.

Volgens daardie toetse sou ek nie in staat wees om my regterkant te gebruik nie, en in daardie stadium kon ek nie eens ’n pen vashou nie, wat nog te sê ’n boek skryf.

Maar hier is ek, 'n lewende bewys dat ek kan skryf en praat sonder enige probleme.

Dis ongelooflik om te dink ek het my biografie in die hoësorgeenheid geskryf toe ek nie myself kon was of ’n pen met my regterhand kon vashou nie.

Ek moes intense arbeidsterapie ondergaan om my fyn motoriese vaardighede aan die regterkant te ontwikkel.

Wie kan sê wonderwerke bestaan nie? Ek het dit self aanskou . . . nie een of twee keer nie, maar talle kere.