Die datum waarop sy hom ontmoet het, is helder in haar verstand ingebrand.

8 Jan 1974. Emma* was in matriek en Dirk* het by die korporasie op ’n klein Vrystaatse dorp gewerk.

Ons het dadelik van mekaar gehou

“My oorlede swaer het ons aan mekaar voorgestel, sommer daardie aand toe vra hy of ek met hom sal uitgaan,” vertel Emma. “Hy was aantreklik, vriendelik, met mooi maniere en hy was saggeaard.

"Ons het dadelik van mekaar gehou. Hy het respek gehad vir die feit dat ek nog op skool was, hy het ’n goeie sin vir humor gehad en baie respek vir my ouers en familie getoon. Dit het net gevoel ek het my droomman ontmoet.”

Later jare het sy altyd aan hom gedink wanneer sy deur die dorp gery het. “Ek het gewonder. Is hy gelukkig getroud? Het hy kinders? Het hy al kleinkinders? Is hy ’n streng pa? Is hy ’n bederf-oupa?

“Soms het ek gewonder of hy my onthou en die volkspele wat ons saam gedoen het.”

In Januarie 2017 het Emma vir Dirk op Facebook opgesoek en op 31 Januarie het hy haar vriendskapsversoek aanvaar, waarna sy ’n nommer vir hom gekry en hom gebel het.  

Sy was in daardie stadium nog getroud, maar was baie ongelukkig in haar huwelik.

Dirk het Emma vertel dat hy in Lesotho werk, in 1981 geskei is nadat sy vrou ’n miskraam gehad het en dat sy vir hom ’n e-pos moet stuur met alles wat sy gedoen het sedert hulle mekaar laas gesien het.

“Ek het toe vir hom gesê as hy weer naby is, moet hy kom koffie drink sodat ons kan gesels oor die afgelope 43 jaar en wat elkeen gedoen het.”

Twee maande lank het ons saans so gesels en vir my was dit iets om na uit te sien

Sy het vir hom ’n e-pos gestuur en vertel van die moeilike jare wat sy in haar tweede huwelik beleef het en van daar af was hulle elke aand tussen sesuur en elfuur met mekaar in kontak. Die kontak wat sy met Dirk gehad het, was vir haar soos suurstof, vertel Emma.

Veral omdat sy in daardie stadium baie swaar gekry het weens haar gewese man. Sy is een Sondag kerk toe en het vir die pastoor gesê sy soek uitkoms in haar huwelik.

“Die middag het my eksman my met vuishoue gedreig en in my gedagtes het ek net gesê: 'Liewe Jesus, kom haal my deur die dood of gee uitkoms’. Ek is van my kamer terug sitkamer toe en het die suurstofmasjien aangeskakel, my Blackberry-foon, en met oorfone het ek musiek geluister en speletjies gespeel op my tablet om die tyd om te kry.

“Ek het altyd in die aande so gesit met die musiek in my ore, want my gewese man wou net na sy programme kyk. Halfagt daardie aand het ek die epos gekry wat my hart geskud het. Dit het gesê: ‘My meisiekind, byt vas; ek kom jou haal.'  

“Ek het op Facebook gegaan en dieselfde boodskap gekry. Hy was aanlyn en ek vra toe wat hy bedoel. Sy antwoord was dat hy weet ek sit en huil (wat waar was) en dat ek nie verdien om seer te hê nie.

"Ons het tot voor 11 daardie aand gesels. Ek het nag gesê en gaan slaap. Twee maande lank het ons saans so gesels en vir my was dit iets om na uit te sien.”

Emma vertel dat Dirk deurentyd volgehou het dat hy geskei is. “Hy het op ’n stadium vir my gesê hulle bly in dieselfde huis, maar in aparte kamers. Ek was deur alles baie agterdogtig en het soms na sy huistelefoon gebel, maar nie gepraat nie.

"Dan het hy geantwoord. Ná so ’n ruk dan SMS hy en sê vir my sy eksvrou het hom laat weet ek bel, en wanneer haar kêrel antwoord, druk ek dood. Dan het ek hom net gesê hy moet glo wat hy wil.”

Dirk het probeer voorgee dat hy sy vrou se kêrel is wat antwoord.

“Ek het ontken dat ek gebel het, want dit het baie seergemaak dat hy so gelieg het.”

Dit is ’n dag wat ek nooit sal vergeet nie

In Augustus 2017 het hulle mekaar vir die eerste keer na al die jare by ’n gastehuis in Bloemfontein ontmoet. “Die groet was so spesiaal. Ek het van die gastehuis tot op die straathoek geloop.

"Hy het aangeloop gekom, gaan stil staan met sy foon in die hand en rondgekyk. Al wat ek kon sê, was: 'Ja, jy.' Hy het na my gekyk en een tree gegee met die woorde: ‘My meisiekind, ek’s lief vir jou’.

"Ek het sy gesig in my hande gevat en gesoengroet. Toe druk hy my styf teen hom vas, soen my nog twee keer en toe stap ons terug gastehuis toe. Ons het in die loop gesels oor my vrese en hy het my bly verseker hy is geskei en lief vir my en dat hy in Lesotho werk.  

“Dit was so ’n spesiale tyd. Toe hy moet groet was ons albei in trane. Dit is ’n dag wat ek nooit sal vergeet nie, dit was net so wonderlik om hom twee uur vir myself te hê.

“Ons het steeds per e-pos, SMS en met oproepe kontak gehad. Hy het in baie van sy eposse gesê hy wil saam met my oudword, ek is deel van sy toekomsplanne, hy wil my nie weer verloor nie, hy is baie lief vir my en ek is sy enigste. Ons sal saam wees en ek moet net geduldig wees.”

Emma en haar man is in Februarie geskei.

Ek is vir hom so lief, maar bitter kwaad oor al die leuens

In Maart vanjaar het Dirk vir Emma ’n boodskap gestuur waarin hy gesê het hy dink hulle moet net vriende bly sodat hy sy goed kan uitsorteer, maar nie verduidelik wat presies hy daarmee bedoel nie. “As ek begin vrae vra, het hy effe ongeduldig geword. My hart was seer, want hoekom wil hy my nie vertrou nie. Ek het my hart heeltemal teenoor hom oop gemaak.”

In April het sy vir hom ’n WhatsApp gestuur die dag voor hy verjaar en gesê sy sal die volgende dag bel. Hy het haar afgeraai om te bel en gesê hy sal haar bel aangesien hy in daardie stadium êrens in die Oos-Kaap op ’n plaas gewerk het.

Die volgende oggend vroeg het sy onverwags ’n oproep van ’n privaat nommer af gekry. Sy het gedink dit is ’n ou vriendin, maar dit was Dirk se vrou wat op haar skree en haar beveel om hom uit te los, want anders sou sy die polisie kontak en haar laat toesluit vir teistering.

“Ek het vir hom ’n SMS gestuur en net gesê ek sal hom uitlos en dis nie nodig om my te dreig met die polisie nie.”

Ek was al die jare lief vir hom omdat hy my eerste groot liefde was

Weer het Dirk se vrou gebel en op haar geskree en daarna het Dirk haar self gebel en gesê sy moet hom uitlos. “Dit het bitter seer gemaak,” vertel Emma.

Sy sê sy weet nie wat Dirk vir sy vrou vertel het nie. “Sy het my nie een keer kans gegee om my kant te stel nie. So ek vermoed hy het maar vir haar gesê ek pla hom. Hoekom wil hy en sy my nie saam kom sien nie?”

Emma sê dit is moeilik om haar gevoel vir hom te beskryf. “Ek is vir hom so lief, maar bitter kwaad oor al die leuens.”

Sy verstaan nie waarom hy ’n verhouding begin het as hy nog getroud was nie.

“Ek was al die jare lief vir hom omdat hy my eerste groot liefde was. Sy plek sal altyd in my hart wees, maar ek sal hom nooit weer vertrou nie, maak nie saak wat vorentoe gebeur nie.”

Emma sê sy het geleer om mense nie so gou te vertrou nie en wil graag alle vroue waarsku voor hulle met ’n verhouding begin. “Maak seker die man is enkellopend. Voor ek weer by iemand betrokke raak sal ek eers ’n skeibrief of doodsertifikaat wil sien. 

“Daar is genoeg seer in die lewe en mens wil mos net liefde en geluk hê.”

* Skuilname.