Ons doen dit weer – en dié keer kan dit jou beurt wees! Ná die sukses van Huisgenoot se eeufeesfliek, Vir die Voëls, wat kykers laat lag én huil het, het Huisgenoot en kykNET besluit om weer saam ’n fliek te maak – en ’n leser se ware liefdesverhaal gaan weer as inspirasie daarvoor dien. Skryf jou eie ware liefdesverhaal en stuur dit aan ons – as dit gekies word, kan jy die ongelooflike ervaring hê om jou eie verhaal op die silwerdoek te sien afspeel. As inspirasie om jou aan die skryf te kry plaas ons vandeesweek die ware liefdesverhaal van een van Huisgenoot se joernaliste.

"Imagine ons ontmoet vanaand ons trouman,” sê ek terwyl ek en my vriendin Chanelle deur die maroen draaihek by die ingang van die kampus stap.

Ek is dadelik smoorverlief.

Byna 100 studente daag by die opleidingsaal op, gretig om geld te verdien deur kaartjies by konsertsale se deure te skeur wanneer die Aardklop- Nasionale Kunstefees oor ’n paar weke hier op Potchefstroom begin.

En daar sien ek hom. Sy oë is so groen soos gras en sy hare blond en so deurmekaar soos net ’n 19-jarige s’n kan wees ná 12 jaar van skoolreëls. Ek hoor hoe vriendelik hy met vreemdelinge gesels, en sy neus kreukel toe hy lag.

Ek is dadelik smoorverlief.

Ongelukkig word die vriendelike student met die deurmekaar hare by ’n ander groep ingedeel as ek. Maar die konsertsaal waar hy gaan diens doen, is darem net oorkant die straat van die skoolsaal waar ek gaan werk.

Teen die tyd dat Aardklop begin, het ek al talle verskonings uitgedink om by sy konsertsaal ’n draai te maak. Ek ruil met ander studente uit, en toe Jak de Priester daar optree, dring ek daarop aan om die vertoning te gaan kyk. Op die ou end loop ek Jak se hele konsert mis, want ek knoop liewer ’n geselsie aan met die blondekopman in die voorportaal.

“Hey hey . . . Hori, hie is my nr dan kan ons biekie op mxit gesels as jy wil?” stuur hy kort voor die Desembervakansie ’n Facebook-boodskap. A nee a, dink ek. Hy kan mos eerste vir my ’n boodskap stuur!

“Hier is my nommer,” skryf ek.

Charlea se vliegtuigkaartjies.

My hart bokspring en daardie Desembervakansie klets ek en CJ Grey byna elke aand op Mxit.

Ons raak elektroniese penpelle. Maar van iets romanties is daar tot my teleurstelling geen sprake nie. Ek ontleed elke boodskap se kommas en hoofletters vir ’n teken dat hy dalk in meer as vriendskap belangstel. Van my kant is ek hopeloos te skaam om iets te laat blyk en bly ek net die vriendelike Aardklop-meisie.

In my tweede jaar skraap ek al my moed bymekaar en nooi hom saam na ’n troue. Ons gesels onophoudelik en dans die hele aand. Maar ons bly net vriende wat mekaar op kampus raakloop.

En steeds, elke vakansie, wanneer hy in sy tuisstad, Vereeniging, is en ek in myne, Kempton Park, vlieg die Mxit-boodskappe tot ons aan die slaap raak.

My hart is in stukke. CJ bly weer ver van my, en nou het hy boonop ’n meisie.

Ná drie jaar in Potchefstroom gaan studeer ek vir my honneursgraad op Stellenbosch en verruil my ou Sony Ericsson-selfoon met Mxit vir ’n pikswart BlackBerry wat BBM-boodskappe kan stuur. CJ studeer nog in Potch en is nou iets van die verlede, dink ek eendag toe ek deur die Bolandse studentedorp stap. Dis tyd vir ’n nuwe begin en nuwe mansvriende.

Bzzz, vibreer my nuwe selfoon in my sak. “Hey hey . . . Gaan jy nou nooit weer met my praat nie?” lees ek op die skerm en my hartklop versnel.

En so gaan dit aan. Ons sien mekaar nooit, maar klets voortdurend. My penpel raak my beste vriend en vertroueling. Tog fladder die vlinders in my maag nog keer op keer.

Ná my studie trek ek terug Johannesburg toe om by ’n dagblad te gaan werk. CJ is ook klaar gestudeer en moet as prokureursklerk begin werk. Laat een aand lui my foon. Dis CJ. “Ek begin aan die einde van die maand as klerk werk,” begin hy die nuus deel. “In die Kaap,” verduidelik hy. Ek is bitter teleurgesteld. En ’n maand later lees ek sy boodskap uit die Kaap: “Ek het ’n meisie ontmoet en ons gaan die verhouding ’n kans gee.”

My hart is in stukke. CJ bly weer ver van my, en nou het hy boonop ’n meisie. Ek huil maande lank oor die verlies van my beste pel. My ouers gee my selfs ’n kaartjie om te simpatiseer.

Genoeg is wraggies genoeg, besluit ek ná maande se gewroeg. Ek wis sy foonnommer uit, want my arme hart kan net soveel verduur.

“Kan ek jou sien?” vra hy

Lawwigheid tydens hul verlowingsfotosessie.

Omtrent ’n jaar lank gesels ons nie met mekaar nie, maar ek sien op Facebook hy en die meisie het uitgemaak. Ek begin vir ’n meestersgraad studeer, gaan op afsprake, maak nuwe vriende en kry selfs ’n nuwe “soortvan-kêrel”. Ek vergeet van CJ, sy groen oë en die jare se geklets.

Dis 2015. Dis ’n nuwe jaar, ’n nuwe ek en ’n week voor ek Stellenbosch toe gaan om klasse vir my meestersgraad by te woon. Ek sit, druk besig, en tik ’n nuusberig teen ’n hengse spoed.

Piep-piep-piep. Dis my selfoon met ’n WhatsApp-boodskap. “Gaan ons nou regtig nooit weer met mekaar praat nie?” lees ek, en my hart begin teen my borskas hamer. Ek bewe.

Sedert daardie dag op Bloubergstrand het CJ nog nie weer opgehou om vir my boodskappe te stuur nie.

“Wel, ek kom volgende week Stellenbosch toe,” blaf ek kortaf met my dawerende hart.

“Kan ek jou sien?” vra hy. “Hang af hoe my dagboek lyk,” tik ek snipperig terug, en ná ’n berekende sewe minute: “Ek doen Woensdagaand niks.”

Daardie Woensdagaand ontmoet ons mekaar in die middel van Stellenbosch en besluit om pizza te gaan eet. Meer as ’n jaar se gesels word ingehaal en ons klets weer soos in ons studentedae, maar dié keer sonder Mxit, BBM of WhatsApp. Ons maak ’n draai by die roomyswinkel en gaan drink koffie by ’n romantiese restaurant voor hy groet en terugry huis toe.

CJ en Charlea het op Bloubergstrand verloof geraak en vyf maande later in Augustus getrou.

Ons maak planne om mekaar die Saterdagoggend voor ek terugvlieg weer te sien. Maar die atmosfeer is meer gespanne as daardie gesellige Woensdagaand. “Wat wil jy hê, CJ?” val ek met die deur in die huis terwyl ons op Bloubergstrand koffie bestel.

En dan antwoord hy reguit: “Ek wil hê ons moet ‘ons’ ’n kans gee. Ek hou al baie lank van jou. En ek wou jou lankal sê, maar was bang dinge werk nie uit nie en dan is ons vriendskap daarmee heen. En toe praat ons so lank nie met mekaar nie. Ek het gedink jy is kwaad vir my . . . ”

Ek sit lank net en luister. “Ek sal daaroor dink,” antwoord ek voor ek groet en terugvlieg Johannesburg toe. Maar ek hoef nie te lank te gedink het nie. Voor die vliegtuig land, ken ek reeds die antwoord. Ek ken dit dan al sedert my eerste jaar op universiteit.

Paar maande later het CJ my op daardie einste strand met ’n verloofring verras.

Sedert daardie dag op Bloubergstrand het CJ nog nie weer opgehou om vir my boodskappe te stuur nie. Ná ’n langafstandverhouding van ’n jaar en ’n half het ek Kaap toe getrek. ’n Paar maande later het CJ my op daardie einste strand met ’n verloofring verras.

En ’n bietjie meer as twee maande gelede, op 26 Augustus 2017, presies nege jaar en 11 dae nadat ek vir die eerste keer in daardie grasgroen oë gekyk het, het ons trouklokke in Kaapstad gelui.

Dis ’n opgesomde weergawe van ons liefdespad dié; nege jaar is te lank vir twee bladsye. 

Skryf so in vir ons tweede fliekkompetisie

Jou eie, besonderse, ware liefdesverhaal kan as grondslag dien vir Huisgenoot se tweede fliek. Dit sal in samewerking met kykNET vervaardig word, en ’n professionele draaiboekskrywer sal jou verhaal in ’n draaiboek omskep.

Om in te skryf, skryf net jou eie ware liefdesverhaal in hoogstens 3 000 woorde en stuur dit na HGfliek@huisgenoot.com.

Die sluitingsdatum is 15 Januarie 2018. ’n Paneel beoordelaars van Huisgenoot en kykNET sal die verhaal met die meeste potensiaal kies as grondslag vir ’n draaiboek.

Die kykNET-toesigvervaardigers Tina Kruger en Anneke Villet gee die volgende wenke:

  • Die storie moes werklik met jou gebur het. 
  • Die held en heldin in die storie moet mekaar vind.
  • Soos in alle verhoudings moet daar konflik tussen die twee wees.
  • Die verhaal moet ’n gelukkige einde hê.
  • Dit sal ’n bonus wees as werklik komiese dinge met julle as paartjie gebeur het.