Pappa, Paps, Pa, Pappie, Vader . . . Maak nie saak wat jy hom noem nie, dit is ’n ongeëwenaarde voorreg om ’n pa te hê, ’n seëning sonder weerga!

Pa’s is nie net die argitek van hul eie lewe nie, ook van hul kinders s’n. ’n Ware en goeie pa se liefde bring vreugde en ’n veiligheidsnet na sy gesin.

So baie van ons neem hierdie “pa-voorreg” as vanselfsprekend aan. Moenie daardie fout maak nie. Dink aan diegene wie se pa veels te vroeg oorlede is.

Hul kinders sal nooit sy beskerming en liefde ken nie; altyd na sy teenwoordigheid in hul lewe hunker.

Jy wat dink jou pa moet maar net altyd daar wees vir jou wanneer jy hom nodig het: Wanneer laas het jy vir jou pa sy pantoffels of koffie aangedra; jou arms om sy nek gegooi; of op sy skoot geklim en hom laat deel in jou vreugde, waardering of selfs hartseer? Of het jou pa maar net die voorsiener van kos, klere en die kredietkaart geword?

Vadersdag is weer hier. Maar laat dit elke dag “Pa-dag” wees. 

– Rosie, Bloemfontein

Skryf vir ons
  • E-pos hgnbrief@huisgenoot.com.
  • Briewe moenie langer as 200 woorde wees nie.
  • Menings wat hier gelug word, is nie noodwendig dié van die redaksie nie.
  • Die skrywer van die wenbrief kry R300.