Hul naelbyt-oorwinning teen Wallis in die halfeindstryd het Suid-Afrikaners in trane gehad.

Die opwinding is besig om koorshoogte te bereik met ons rugbymanne wat 'n kans staan om weer die Webb Ellis-trofee omhoog te hou. 

Op Saterdag 2 November ding hulle mee teen die Rose van Engeland om as wêreldkampioene gekroon te word.

Kaptein Siya Kolisi het in die kuberruim die Bok-ondersteuners bedank vir hul boodskappe en aanmoediging, en gevra dat hulle sal aanhou om die Bokke te ondersteun. 

View this post on Instagram

A post shared by Siya Kolisi (@siya_kolisi_the_bear) on

Ons het dus Huisgenoot-lesers gevra om hul advies en boodskap van ondersteuning aan die Bokke in die kommentaarveld te skyf. 

Hester van der Merwe het in groot spanning die halfeindstryd gekyk.

“Ons het op die punte van ons stoele gesit. Julle het gewen en dis al wat saak maak!” laat sy hoor. 

En indien Nel Steenkamp voor die eindstryd raad in die Bok-breier en -kaptein, Rassie Erasmus en Siya Kolisi, se ore kon fluister, sou dit eenvoudig wees: “Oë op die bal en bly gefokus.” 

Sy gunstelingspeler is die skrumskakel Faf de Klerk en hy sal die eindstryd in sy huis kyk waar hy “kan sê wat hy wil”.

Marie Schroeder se gunstelingspelers is Pieter-Steph du Toit en Duane Vermeulen. Sy moedig die manne aan om op hul spel voort te bou. “Trots op julle. Sterkte vir die eindstryd, dit gaan moeilik wees. Maak ons trots, Bokke!” laat sy hoor. 

Handré Pollard was as speler van die wedstyd aange
Handré Pollard is as speler van die wedstyd aangewys toe die Bokke vir Wallis uitoorlê het. Foto’s: Gallo Images/ Getty Images

Barend J. Olivier sal meer hardlooprugby wil sien: “Skop minder en behou besit,” skryf hy. Volgens Barend is die Bokke op die regte pad: “Die wêreld kry die boodskap. Bokrugby is weer waar dit moet wees.”

Vanessa Hendricks beaam: “Los die skopwerk en maak gebruik van die agterlyn!” Haar gunstelingspeler is Cheslin Kolbe, die “op-en-wakker vleuel” wat sy terugkeer na die veld sal maak ná 'n enkelbesering hom uit die span gehou het. 

Ceslin Kolbe in aksie vir die Bokke. Foto: Gallo I
Ceslin Kolbe in aksie vir die Bokke. Foto: Gallo Images/ Getty Images

Ernest William Roberson is 'n voorstander van Rassie se skopplan. 

“Rassie se wedstrydplan werk nog vir julle. Vra enige eks-voorspeler hoe moeg dit jou maak om heeltyd om te draai, terug te val en van vooraf aan te val. As iets nie gebreek is nie, verander jy dit nie,” skryf hy. 

Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.