As ’n dokter in die staatsektor van ’n landelike gebied het ek gedink ons sal COVID-19 gespaar word. Die afstand tussen ons en die metropool, en reise wat ingeperk is, sou ons beskerm. 

So het ons vroeg Maart in die teekamer vir mekaar gesê. Dit was ’n manier om onsself te probeer gerusstel, om die angs af te weer wat jou keel wou laat toetrek.

Helaas, ons was naïef . . . COVID-19 is nie kieskeurig nie en het selfs in hierdie uithoek vinnig versprei. Die praatjies in die teekamer het gou somber geraak.

Oor die getalle wat toeneem, maar veral oor die harde werklikheid: Ons COVID-19-pasiënte is soveel jonger. Skielik was ’n jonger ouderdom nie meer die beskermende mantel nie. 

Nêrens in my ses jaar van studie het ek geleer hoe om met die emosionele eise van ’n pandemie te deal nie. Die stories wat my kollegas deel, resoneer ook in my lewe.

Ons slaap sleg, eet min, die knop op jou maag wil nie skietgee nie.

“ ’n Klug,” verklaar iemand op Facebook. Ja, Oom. Tot jy dit self sien . . . Daardie nou bekende COVID-19-prentjie: ’n pasiënt wat 50 keer per minuut asemhaal, die vrees in hul oë – “Dokter, gister was ek dan nog oukei?”

Ja, die inperking het ons tyd gegee vir voorberei, maar ons sal nooit kan reg wees vir die golf wat kom nie. Hy is ongelukkig reeds hier.

Dat ons moontlik nie die mas gaan opkom nie, was duidelik op 1 Junie toe die sluise oopgemaak is en ons beddens blitsig gevul is deur mense met alkoholverwante pyne en skete.

Beddens wat eerder gebruik kan word vir jou ouma met haar beroerte of jou vrou met COVID-19. En dis maar nog net die begin.

J. MARITZ, Wes-Kaap