Phedre Issel. Foto: Verskaf
Phedre Issel. Foto: Verskaf

Ná vier maande van intense behandeling is sy amper kankervry en wil sy haar storie deel om vir ander hoop en vertroosting te bied.

“Net ná my 21ste verjaardag in September verlede jaar het ek rugpyn en maagongemak begin ervaar. Ek het gedink ek het my aan verjaardagkoek ooreet en dit ’n ruk lank geïgnoreer. Maar later kon ek dit nie meer ignoreer nie.

Ek is na my dokter toe en dié het my vir ’n ultraklank gestuur. Die skandering het letsels aan my pankreas en bynier getoon en die dokters het vermoed ek het MEN-sindroom, ’n genetiese toestand wat ooraktiwiteit in en vergroting van sekere kliere veroorsaak. Dit was taamlik ontstellend – ek het gedink my lewe sou nooit weer dieselfde wees nie, want dit is baie moeilik om hiervoor behandeling te kry.

My pyn het voortgeduur en ek is desperaat terug na my dokter toe, wat my na ’n endokrinoloog verwys het.

Phedre saam met haar ma, Deidre, pa Floyd en haar
Phedre saam met ma Deidre, pa Floyd en haar suster wat haar grootste ondersteuners is. Foto: Verskaf

Ek is vir ’n week in die hospitaal opgeneem sodat hulle diagnostiese toetse kon uitvoer. Toe is ek vir ’n biopsie gestuur, en op 30 November het ek ’n foonoproep gekry wat my lewe op sy kop gekeer het. Fase 4 diffuse groot B-sellimfoom, die algemeenste vorm van nie-Hodgkin-limfoom, is by my gediagnoseer.

Dit was ’n reuse-skok. Ek is die eerste lid in my familie wat kanker gekry het en ons het niks daaroor geweet nie. Maar my dokter het die siekte en die behandeling so goed verduidelik dit het my hoop gegee dat ek dit kon oorleef.

Ná maande van nie weet wat met my fout was nie en my toe bekommer dat ek ’n genetiese toestand het, was dit amper ’n verligting om te weet dokters het eindelik geweet wat met my fout was en dat behandeling kon begin.

Na afloop van haar eerste chemoterapiesessie. Foto
Na afloop van haar eerste chemoterapiesessie. Foto: Verskaf

Ek het met chemoterapie begin en ná my derde sessie het dit my regtig getref dat ek siek was. Chemo is moeilik. Jy verloor ’n deel van jouself ná elke sessie en jy is so moeg dat selfs praat uitputtend is.

In daardie donker oomblikke het my geloof, familie en vriende my aan die gang gehou. Dit het ook gehelp dat ek nog altyd iemand was wat vir die silwer randjie in alles soek. Ek het iets goeds in elke dag probeer soek.

Phedre moes al haar hare afsny na die eerste chemo
Phedre moes al haar hare afsny na die eerste chemoterapiesessie. Foto: Facebook/Raising Awareness for Non-Hodgkins

Ná my vierde chemosessie was meer as 80% van my kanker weg. Dit was wonderlik om te hoor. Ek hoop om volgende keer ’n skoon CAT-skandering te sien sodat ek my studies kan voltooi.

Ek is ’n vierdejaar-onderwysstudent aan die Two Oceans Graduate Institute in Observatory, Kaapstad, maar ek moes my studies uitstel om te fokus op beter raak.

Phedre moes vir eers haar studies staak en op haar
Phedre moes vir eers haar studies staak en op haar herstel fokus. Foto: Verskaf

Intussen het ek ’n Facebook-blad, Raising Awareness for Non-Hodgkins, begin waar ek my reis deel. Toe ek met chemo begin het, het ek ondersteuningsgroepe gaan soek en kon nie eintlik enige in Suid-Afrika vind nie, veral vir nie-Hodgkin-limfoom nie.

Please go read my testimony ??

Posted by Raising Awareness for Non-Hodgkins on Wednesday, 17 March 2021

Die blad gee my die geleentheid om ’n baken van hoop te wees vir iemand wat onlangs gediagnoseer is. Dit stel ook mense met kanker in staat om kontak te maak en hul ervarings te deel.

My diagnose het my laat besef jy moet soms jou planne opsyskuif en net die lewe sy ding laat doen. Ondanks die uitdagings is ek dankbaar ek het die krag om te baklei en nie die wat-asse te vrees nie. Ek waardeer elke dag soos dit kom.”

WAT IS DIFFUSE GROOT B-SELLIMFOOM?

Diffuse groot B-sellimfoom is ’n aggressiewe kanker wat die limfstelsel aantas.

Die siekte teiken die liggaam se B-selle, ’n belangrike deel van die limfstelsel wat teenliggame vervaardig om infeksie te bestry. Dit is die algemeenste soort nie-Hodgkin-limfoom. Volgens die Lymphoma Research Foundation word die kanker elke jaar by meer as 18 000 mense gediagnoseer.

SIMPTOME

  • Nagsweet
  • Ongewone gewigsverlies
  • Verlies aan eetlus
  • Uitermate moegheid
  • Vergrote limfkliere
  • Koors
  • Uitermate jeukery

BEHANDELING

Dit word bepaal deur hoe gevorderd die siekte is, maar sluit gewoonlik in:

  • Bestraling
  • Chemoterapie
  • Immunoterapie 
  • R-CHOP-behandeling, ’n kombinasie van chemoterapie en immunoterapiemedisyne.

BRONNE: LYMPHOMA.COM, HEALTHLINE.COM

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe