Partykeer is dit ’n bekende idioom wat ’n nuwe baadjie kry of ’n unieke uitdrukking wat net die huismense snap en hulle keer op keer laat skaterlag.

Soms is dit te danke aan ’n flater dat so ’n sêding bly vassteek soos in die Venter-gesin van Krugersdorp gebeur het. Hul seun Janneman was ses toe hy lustig saamsing aan die geloofslied Op Berge en in Dale.

Maar die woorde wat in kinderlike onskuld uit sy mondjie gekom het, was: “Die berge het sandale. . .” En tot vandag toe is dit nog hoe die Venters dié lied sing. “Loof hom met die tromme” word dan gevolg met “loof hom met die hark”, want dié seuntjie het geen idee gehad wat ’n harp is nie.

“Dis nou al tweede natuur om die liedjie so te sing,” vertel Janneman se pa, Jan, laggend.

Laat dié staaltjie jou dalk dink aan ’n trefferliedjie wat in jou huis ander lirieke gekry het? Of het jul gesin kodewoorde om ’n boodskap ongemerk in ander se geselskap oor te dra? Of het julle met ’n eie beskrywende woord of uitdrukking vorendag gekom?

Dan is dit nou jul kans om dit met ander sprekers en liefhebbers van Afrikaans te deel.

Die webtuiste Afrikaans.com se jongste veldtog gaan oor die unieke gesegdes of sêgoed wat in gesinne en families gebruik word. Dit volg kort op die hakke van hul vorige twee veldtogte om Afrikaans te bevorder, “Hoe lyk jou Afrikaans? en “Waarom is Afrikaans vir jou #onmisbaar?” 

“Met die derde veldtog bou ons voort op die #onmisbaar-tema, maar ons vra nou meer spesifiek dat mense sal nadink oor die waarde wat die taal vir hulle het,” sê Milanie Vosloo van Afrikaans.com

Huisgenoot het by verskeie bekendes gaan aanklop om te hoor watter sêgoed hul gesinne alles het en hoe hulle daarmee ons moedertaal verryk. 

“Ek is mos maar ’n langeraat. Op skool is ek gespot en effens oor my lengte geboelie,” vertel die Suid-Afrikaanse netbalspeler Vanes-Mari du Toit. Sy was ook ’n ster in die jongste reeks van die TV-danskompetisie, Dancing with the Stars. 

Sy en haar ma het destyds hul eie woord vir leëkoppies geskep wat boonop bitsig is. “Ons het begin om meisies wat ‘leeg’ is, stories aandra en kort is, ‘koeverte’ te noem. Dis vandag nog so,” vertel Vanes-Mari.

In haar skooldae het sy haarself gereeld met die gedagte getroos dat dié of daardie meisie “net ’n koevert is” wanneer hulle gemeen was met haar. 

Al is haar man, Matt Proudfoot, se moedertaal Engels, praat hulle baie Afrikaans in die huis. “Ek druk myself net soveel lekkerder in Afrikaans uit. Selfs Matt sê hy verkies dit om homself in Afrikaans uit te druk omdat daar soveel kleurryke gesegdes en woorde is,” vertel Vanes-Mari.

’n Bekende sêding in die veteraansanger Laurika Rauch se gesin is: “Dit het sommer vanself reggekom.” En dit laat hulle almal altyd glimlag, vertel sy.

“Dit kom eintlik van Chris (haar man Christopher Torr) se grootwordjare op die plaas waar ’n trekker of ’n implement sou breek, en dan het sy pa uit ervaring geleer as jy dit eers net los, het ’n ding ’n geneigdheid om miskien ná ’n rukkie se staan weer reg te kom sonder dat dit na die werkswinkel hoef te gaan.

Ons gesin gebruik dit almal en dit verskaf altyd eindelose plesier as dinge werklik so uitwerk,” verduidelik Laurika.

“Afrikaans en sy unieke uitdrukkings is vir ons as familie erg kosbaar; daar is soveel dinge wat ’n mens in Afrikaans sê wat nie vertaalbaar is nie, want dit lê in die volksmond en dis ’n mens se moedertaal,” voeg sy by.

Vir die sanger Jak de Priester is dit belangrik om kreatief in Afrikaans te wees, op die verhoog én by die huis. “Dis meer as net my moedertaal; dis ook hoe ek my brood en botter verdien,” sê hy.

Sy seuntjie Jamie (8) het begin om die woord “aapstert” te gebruik en nou gebruik almal in die huis dit om ’n klein bogsnuiter te beskryf.

Crazy awesome beautiful kids of mine!#purpose #love #familytime #family #kids

A post shared by jak de priester (@jakdepriester) on

Die gesin het hul eie woord van die week. “Ek en Michelle (sy vrou) kies elke Sondag ’n nuwe woord wat ons vir die kinders leer. Dis juis waar ‘aapstert’ vandaan kom. Dis woorde wat baie moeilik is en wat hulle sukkel om uit te spreek. Maar dis juis die idee dat hulle ’n woord leer wat ander kinders van hul ouderdom nie eens ken nie,” verduidelik Jak. 

Op hierdie manier sorg hulle dat groot en klein in die gesin nadink oor Afrikaans se raaksêwoorde en gesegdes en die gebruik daarvan.

Die akteur Alvin Bruinders sê sy ma het met die gesegde begin: “Jou hande is nie voete nie.” Dit is haar manier van sê jy kan raakvat en dinge self gedoen kry, verduidelik hy. “My kinders ken almal die gesegde; ons gebruik dit baie.”

Foto: Facebook.

Nog ’n sêding eie aan die Bruinders-familie is: “Kom blom!” Daarmee word jy gemaan om nie oorhaastig te wil wees met dinge wat hul tyd vat nie, soos ’n plantjie wat moet groei voor dit kan begin blom.

Kurt Darren se kroos inspireer hom om skeppend te raak met die taal. Hy en sy vrou, Dunay, noem hul kinders, Kyrah (3) en Kade (22 maande), “besige bytjies” of “lawwe hase” afhangend van hoe die twee woelwaters hulle die dag gedra, vertel die sanger.

Paaseiers Weskus styl!! ????#eastereggs @dunayvanheerden

A post shared by Kurt Darren (@kurtdarren) on

Hoe jou taal van jou tong afrol, is uniek en besonders. Daar is nie moets en moenies nie. Dis wat Afrikaans #onmisbaar maak. 

Gaan na Afrikaans.com, gebruik #onmisbaar en deel die interessante gesegdes of sêgoed wat jou gesin gebruik. Wie weet, dalk vind dit inslag en word dit nog ’n juweel in die skatkis van ons taal.