Maar Afrikaans is veel meer as dit. Dis ook ons hartstaal waarmee ons soet liefdeswoorde skep en bande met familie en vriende smee.

In ons woede gee dit ons vlymskerp woorde om mee te verwond, maar ook die woordsalf van versoening. Dis die taal waarin ons lees en aanbid, dig en skryf en eet en ons brood verdien.

Afrikaans is die kruik van ons kultuur en die wortels van ons herkoms, maar ook die brug tussen ons verlede, hede en toekoms. Want Afrikaans is trots Suid-Afrikaans.
 
Wat Afrikaans wonderlik maak, is dat dit nie net die eiendom van ikoniese skrywers soos Eugène Marais en Langenhoven, en vlymskerp digters soos Breyten Breytenbach en Antjie Krog is nie.

Dis nie net die verbale instrument van ’n rocker soos Karen Zoid of die operadiva Mimi Coertze nie.

Dit bly ook nie in stowwerige biblioteke nie. Afrikaans is ’n lewende fontein wat opborrel in die alledaagse omgangstaal van almal wat dit liefhet.

Dit ken g’n grense nie en word gevorm, geskaaf en dikwels nuutgeskape in die monde van almal wat dit praat – op die verhoog, in die raadsaal, op ’n bouperseel of in die kombuis.
 
Of jy nou ’n taalpuris is soos Riaan Cruywagen of kletsrym soos Hemelbesem – Afrikaans is die goue draad wat die brein, hart en mond aan mekaar verbind.

Maak nie saak hoe jy dit praat nie – praat dit, leef dit. Ingrid Erlank, redakteur van Afrikaans.com, sê Afrikaans se murg “is te vinde in sy variante, dialekte en streektaal waarin die warmte van Afrika en Asië gedy”. Sy meen alle dialekte en vorme van Afrikaans is belangrik en moet gekoester word.
 
En Afrikaans se toekoms is so kleurvol soos die taal self. Sowat 7 miljoen mense noem Afrikaans hul moedertaal en nog 14 miljoen praat dit as tweede taal.
 
Ter viering van Moedertaaldag op 21 Februarie het ons by bekende, suksesvolle Suid-Afrikaners gaan aanklop oor hul liefde vir Afrikaans en wat hul moedertaal vir hulle beteken het.

DIS HOE AFRIKAANS ONS GEVORM HET

Francois van Coke, rocker 

“Ek is nie ’n taalstryder nie, maar ek hou van Afrikaans praat. Ons het Fokofpolisiekar in 2003 begin, want ons wou iets doen wat eg aan onsself was en ons kon dit net in Afrikaans doen.”

Vir Francois klink rockliedjies anders in Afrikaans as in enige ander taal. “Die klanke soos ‘rrr’ en ‘ggg’ is fantasties en kan aggressief gesing word.”

En durf ons vra . . .? Daai woord is sy gunsteling. “Ek gebruik dit daagliks en moet dit elke keer sê as ek my band se naam sê. Daar is ook natuurlik honderde gebruike vir die woord.”

Hy sê sy taal het bygedra tot wie hy is en hy is opgewonde om in Afrikaans te kan skryf en sing.

“Ek het vir die eerste keer begin dink Afrikaans is cool toe ek Koos Kombuis en Johannes Kerkorrel gehoor het en Bitterkomix begin lees het. Dit het my laat voel ek wou ook graag iets in Afrikaans doen.”
 
Riaan Cruywagen, nuusleser

Riaan Cruywagen. Foto: Gallo Images/ Getty Images

Die legendariese nuusleser is al vir meer as vier dekades op ons kassies te sien. Hy sê hy praat suiwer Afrikaans omdat dit so ’n mooi taal is.

“Afrikaans is nie net spesiaal omdat dit my moedertaal is nie, maar ook omdat dit die psige verwoord van elkeen wat Afrikaans praat. Die taal is na my mening een van die heel soepelste en mees melodieuse tale.”

Tog het dit baie veranderinge ondergaan. “Die taal het gaandeweg sy erg formele borsrok afgeskud en veel gemakliker geword. In die uitsaaiwese het streeksaksente gelukkig ook toegang tot die ateljees begin kry, wat ’n bloemrykheid en nuwe geur aan ons taal verleen.”

Waarom het hy besluit om in Afrikaans naam te maak?

“Ek het jare lank uitsaaiwerk in Engels ook gedoen, maar wat televisienuus betref, meen ek dat ek my geloofwaardigheid as Afrikaanssprekende skade sou berokken het, en ontrou aan my identiteit sou gewees het, as ek my lang loopbaan nie in my moedertaal gevolg het nie.”

Refentse, sanger

Die sanger met ’n stem soos heuning sê hy kan hom nie indink om in ’n ander taal te sing nie.

“Ek is gek oor die konstruksie van Afrikaanse woorde. ’n Mens kan amper Afrikaans verstaan nog voor jy die taal kan praat.”

Refentse sê hy is opgewonde oor wat voorlê vir die taal.

“Daar is baie plek vir groei in Afrikaans. Ek sien uit na kreatiewe nuwe boeremusiekstukke deur nuwe, jong nuwe boeremusiekkomponiste. Ek sien uit na jong mense wat volkspele speel en ander wat vars idees na die tafel bring.”

Hy is ook opgewonde oor wat hy nog in die Afrikaanse musiekwêreld kan vermag.

“Dis soos ’n wit doek waar jy as kunstenaar jou merk kan maak, nuwe maniere van musiek maak en selfs ’n nuwe genre aan die bedryf kan voorstel.”

Freek Robinson, nuusleser

Die gesoute joernalis was die voorsitter van die TV-debat tussen FW de Klerk en Nelson Mandela, wat deur meer as 800 miljoen mense oor die wêreld heen gekyk is.

Hy is bekend vir sy onpartydigheid, maar tog het hy gekies om sy lang loopbaan as joernalis en nuusleser in Afrikaans te volg.

“Afrikaans is deel van my identiteit. Dis die taal waarin ek my die beste kan uitdruk – nie net omdat dit my moedertaal is nie, maar ook omdat dit ’n taal is wat op hierdie bodem gevorm is.”

Freek vertel hy kan eenvoudige goed en ook die mees ingewikkelde dinge in Afrikaans verwoord.

“Ek kan dink oor punte wat ek op kamera gaan sê en dan sonder om dit te leer, uit die hart praat. Die woorde kom sommer – dit is nie so maklik in ’n ander taal nie.”

Waar kom sy liefde vir die taal vandaan? “Toe ek deur Koos du Plessis se liedjies besef het jy kan in Afrikaans dieper sin maak, sonder om soetsappig en alledaags te wees.”

Christopher van der Westhuizen, akteur

Die akteur van Jou Romeo en Hanna sê hy is baie lief vir Afrikaans.

“Dit lê na aan my hart, want dit is die taal waarin ek met my geliefdes kommunikeer, en ook my liefdestaal. My eerste meisie was immers ook Afrikaans,” sê die talentvolle Johannesburger.

Christopher sê ’n onderwyser het die liefde vir Afrikaans by hom gevestig.

“Ek waardeer die manier waarop ons taal liries kan wees, selfs sonder die begeleiding van musiek. Sy raad aan ander jong Afrikaanssprekendes is om jou “andersgeit” te ondek.

“Eksperimenteer met die taal, maak dit jou eie. Dit is hoe jy iets cool maak. Niemand wil die volgende Jack Parrow, N.P. van Wyk Louw of Jan Spies hoor nie, dis ou nuus. Ons wil iets nuuts hê.”

Johnny Potsanyane, akteur

Die 15-jarige akteur van Getroud met Rugby-faam vertel Afrikaans is deel van sy identiteit, want “ek droom en dink in Afrikaans”. 

Sy gunstelingwoord is “boerseun”. “Dit is die eerste woord wat ek in Afrikaans geleer het. My pa het my altyd gevra wat ek is, en ek het geantwoord: ‘Ek is ’n boerseun.’”

Johnny, ’n aangenome kind, sê sy liefde vir die taal is uit jaloesie gebore. “Ek wou nes my gesin ook Afrikaans praat en het hulle gesmeek om my na ’n Afrikaanse skool te stuur.”

Hy het nog altyd gedink Afrikaans is cool. “Kyk na Jack Parow, Schalk Bezuidenhout en Koos Kombuis. Hulle laat Afrikaans cool klink deur dit op hulle eie manier te gebruik. Dit kan werk hoe jy dit ook al gebruik.”

Hy sê Afrikaans het vir hom baie deure oopgemaak.

Claudia Witbooi, die rapper YOMA

A post shared by YOMA (@claudiawitbooi) on

Haar nuwe album, wat later vanjaar verskyn, sal baie gepas Moedertaal heet. “Afrikaans was daar toe ek my oë oopmaak, amper alles van my vloei daardeur,” sê Claudia, wie se sangmaat en eggenoot die kletsrymer Hemelbesem is. Hulle het albei ’n groot liefde vir Afrikaans.

Sy sê sy het besluit om in Afrikaans te sing om ander vroue te inspireer om ook in hul moedertaal te presteer, “sonder om verskonings daarvoor te maak”. Sy is gek na die verskillende dialekte van Afrikaans.

“Van kleintyd af verskil die manier hoe ons grappe vertel van hoe mense dit in ’n ander taal doen.”

Sy was nog altyd ook ernstig daaroor om kritici van Afrikaans verkeerd te bewys. “Ek wil hulle wys dis iets moois, iets om op trots te wees.”

Haar gunstelingwoord?

“Moenie. Dis vir my kragtig, en ek het dit op my linkervoorarm laat tatoeër.”

HOE KWEEK JY ’N LIEFDE VIR AFRIKAANS BY JOU KINDERS?

“Moedertaal” beteken letterlik die taal wat jy op moedersknie leer. En dis inderdaad waar dit als begin – in die koesterende omgewing van huis en haard, omarm deur ouers en familie. 

Ingrid Erlank, redakteur van Afrikaans.com, stel voor jy snuffel ’n bietjie op die Afrikaans.com-webtuiste rond vir oulike speletjies en idees vir die jongspan.

Baie van die mites oor moedertaalonderrig word ook hier op die webtuiste aangespreek. Deur die liefde vir Afrikaans in jou kinders te kweek, verseker jy die toekoms van die taal.

Prof. Marné Pienaar, hoof van die departement tale, kultuurstudies en toegepaste linguistiek by die Universiteit van Johannesburg, stem saam. Sy sê kinders verstaan ingewikkelde konsepte beter as dit eers in hul moedertaal vasgelê is.

“As ’n kind nie ’n goeie begrip het van hul moedertaal nie, kan hulle nie sarkasme, humor of sinspeling verstaan nie. Taal is ’n speletjie en eers as hulle kan saamspeel, kan hulle hulself ten volle uitdruk,” sê sy.

Hier is ’n paar wenke oor hoe om die taalsaadjie in jou kinders te plant en te laat blom.

Stel die voorbeeld

Ouers wat Afrikaans by hul kinders wil vestig, moet dit ook self tuis praat en hul kinders leer hoe om hulle in hul moedertaal uit te druk, sê Christien Neser, ’n skrywer en spraakterapeut wat spesialiseer in meertaligheid.

“Die taal wat ’n kind die meeste hoor, gaan die taal wees waarin hulle dink,” sê sy. Prof. Wannie Carstens, taalkundige en oudvoorsitter van die Afrikaanse Taalraad, sê kinders gaan jou voorbeeld volg.

“Moenie van juice of slide of popcorn praat nie. Jou kind gaan net homself volkome kan uitdruk as hy ’n omvattende woordeskat het,” sê hy.

Simon Witbooi, beter bekend as Hemelbesem, stel voor jy stel jou kind bloot aan verskillende soorte Afrikaans, nie net die musiek en taalgebruik uit die oudedoos nie. Dan kan hulle self kies watter musiek en boeke hul van hou.

In die nuwe boek Die Storie van Afrikaans: Uit Europa en van Afrika – Biografie van ’n Taal (by Protea Boekhuis beskikbaar van Maart 2018) identifiseer Wannie 81 stappe wat mense kan neem om Afrikaans te bevorder en uit te bou. ’n Lys met 25 van hierdie stappe verskyn op Afrikaans.com.

Lees! Lees! Lees!

Christien kan nie die wonder van leespret vir jou kind genoeg beklemtoon nie: “Ek glo dit is elke kind se fundamentele reg om elke aand voor slaaptyd ’n storie te hoor.”

Foto: Gallo Images/ Getty Images

Sy stel voor jy laat jou kinders die boeke kies waarvan hulle hou en wat op hul vlak is.