Ek onthou opgefrommelde geskenkpapier wat die hele eetkamervloer van ons Delareyville-pastorie vol gelê het, ’n reusepop so groot soos ’n regte egte baba, en sal ek ooit vergeet toe ek die eerste keer ’n Barbiepop kry!

My heel eerste herinneringe aan Kersfees is baie vaag – net enkele, onvolledige terugflitse.

’n Paar jaar later, in ’n nuwe huis, in ’n nuwe stad, het ek as sesjarige my gunstelingteddiebeer gekry. En een jaar was dit fyn silweroorbelletjies.

View this post on Instagram

Gemmerbroodmanne vir Kersfees. ?? #forfunwebake

A post shared by Charlea Grey (@charleagrey) on

Ek is gek oor Kersfees. Van kleins af is ek al deur die wonder van Kersfees meegevoer. Die blink stringe en balle aan die Kersboom, die Kersmusiek, die afwagting, die geskenke onder die boom, die saamwees van geliefdes, die moeite met kosmaak.

Die gevoel van ’n ekstra spesiale geleentheid met ’n atmosfeer van liefde, vreugde en dankbaarheid in die lug, is steeds vir my betowerend.

In opdrag van my tannie het ek een jaar in die laat 1990’s ’n Kersspel vir my, my broer, vier niggies en twee nefies geskryf en hulle elke middag as ons van die strand afgekom het, laat woorde opsê en tonele oefen. As 10-jarige, was dit my debuut as skrywer, vervaardiger, regisseur en aktrise.

Maar my tienernefie en jonger broer wou niks van dié geoefen weet wanneer hulle eerder wou speel nie. Tot my grootste ontsteltenis en trane, natuurlik!

View this post on Instagram

Die Grey-huishouding is 'n kersboom ryker. ????

A post shared by Charlea Grey (@charleagrey) on

Tog, ten spyte van hul seunsgrappies, het ons op Oukersaand vir die grootmense konsert gehou met engele, ’n wyse man en skaapwagters wat in slaapsakke aangetrek is. My jongste niggie se muisagtige teddiebeer moes die belangrike rol van baba Jesus vertolk. En ek was Maria, geklee in ’n reusepienk laken.

In die jare daarna het nog twee kreatiewe Hartenbos-Kerskonserte gevolg. (Tienernefie Philip is toe, gelukkig vir hom en ongelukkig vir my, van die konserthouery vrygeskeld.)

Later jare, as ’n enkellopende iets-in-die-20-jarige het ek graag my ouers se huis vir vrolike Kersfeespartytjies saam met my beste vriende gebruik. Dan het ek die trap se handreling met stringe liggies behang, Kersmusiek deur die huis laat weergalm en tientalle kolwyntjies met Kersfeestema’s gebak.

Verlede jaar het ek en my man as pasgetroudes ons eerste Kersboom aangeskaf. O, die opwinding!

En nou tel ek weer die slapies tot 1 Desember af, sodat ons die boom uit die pakkamer kan gaan haal, die liggies kan ophang en ek self die goue ster vol blinkers bo-aan die boom kan sit . . . 

Skep jou eie feesboodskap hier!

’n “Geseënde Kersfees”-boodskap is deel van my Kersfeeslekkerkry. ’n Kersfeeskaartjie in ’n tyd vol generiese Kersfeesboodskappe is iets uitsonderlik en sommer ekstra spesiaal. 

Ek het op Afrikaans.com gaan loer na die spesiale feeskaartjies wat jy vanjaar vir geliefdes kan stuur. En dis wraggies makliker as om ’n boksie kitspoeding saam met melk te klits!

Onder aan die tuisblad, gaan klik jy op Feesgroete

Hier vul jy ’n digitale vorm in met jou naam, van en e-posadres. 

En dan is dit tyd vir kreatiwiteit! 

Jy kan natuurlik by die doodeenvoudige “Geseënde Kersfees” hou, maar jy kan ook jou idees vlerke gee en ’n pittige sêding, rympie of mooi wens uitdink.

Klik op stuur, en siedaar! Jou mooi woorde beland by Afrikaans.com en hulle omskep dit in ’n Kersfeeskaartjie wat ’n dag later op die webblad beskikbaar gestel word. 

Dié digitale kaartjie kan jy aflaai en gedurende die feestyd die wêreld vol stuur, deur WhatsApp of sosiale media, om die feestelikheid te versprei.

Hier is twee voorbeelde van die oulike feesboodskappe wat jy kan maak.