Afrikaans is die enigste taal ter wêreld wat met monumente vereer word, en daar is sommer ’n hele paar van hulle. 

Die taal is amptelik maar 92 jaar oud, wat hom een van die jongstes ter wêreld maak. Tog is dit ook die taal wat die vinnigste gegroei en ontwikkel het. Een waaroor (die meeste van) sy sprekers passievol is.

Maar om destyds monumente en standbeelde vir die taal op te rig, was byna net so ’n groot stryd as wat dit was om amptelike erkenning vir Afrikaans te kry.

Neem die bekende Afrikaanse Taalmonument op Paarlberg in die Wes-Kaap, ook genoem die Tweede Taalmonument, as voorbeeld.

Die idee vir dié majestueuse struktuur waarvan die hoofsuil amper 60 m hoog is, het reeds in die vroeë 1940’s ontstaan. In daardie tyd is die Afrikaanse Taalmonument-komitee gestig om geld in te samel vir die bou van die monument, maar dit was makliker gesê as gedaan. 

Bouwerk kon eers 30 jaar later, in 1972, teen ’n koste van R700 000 begin. Die inwyding in 1975 is deur ongeveer 40 000 mense bygewoon. Dit het Afrikaanssprekendes so begeester dat sowat 40 dorpe landwyd in die middel van die 1970’s hul eie, maar wel heelwat kleiner, taalmonumente en -standbeelde opgerig het.

Net so ’n interessante stryd omhul die Eerste Taalmonument, wat ook die oudste in die land is, op Burgersdorp in die Oos-Kaap. Besoekers wat vandag hier verbyry, sien nie net een nie, maar sommer twee identiese standbeelde agter mekaar. Die beeld is in die gestalte van ’n vrouefiguur wat ons stamtaal, Nederlands, simboliseer.

Dit is in 1893 op die dorpsplein opgerig om die suksesvolle stryd te gedenk om Hollands as amptelike taal van die Kaapkolonie se parlement erken te kry.

Maar toe breek die Tweede-Vryheidsoorlog in 1899 uit en natuurlik was dié monument toe ’n steen des aanstoots vir die Engelse. Hulle het die vrouebeeld se kop afgekap en van die beeld ontslae geraak. 

Die burgers van Noordoos-Kaapland was woedend en het Brittanje ná die oorlog versoek om die standbeeld te vervang. As versoeningsgebaar het Brittanje in 1907 ’n replika laat maak en dit opgerig.

Die oorspronklike beeld is eers 32 jaar later op ’n stortingsterrein buite King William’s Town opgespoor. Die beskadigde beeld is teruggebring na Burgersdorp en weer opgerig, agter die replika. 

Dit is stories soos dié wat ek jare gelede aan my laerskoolseun vertel het met elke besoek aan ’n standbeeld of museum op dorpe oor ons wye land heen. Die gesegde lui immers as jy nie weet waar jy vandaan kom nie, sal jy ook nie weet waarheen jy op pad is nie.

  • Gaan na Afrikaans.com vir nog interessante feite oor die taal ten opsigte van ekonomiese waarde, moedertaalonderrig en kulturele outentiekheid en vertel ons wat maak Afrikaans vir jou #onmisbaar.