Duisende graadeentjies het verlede maand met groot opgewondenheid – en trane – die eerste tree van hul skoolloopbaan gegee.

Om dié groot oomblik met almal te deel, het Huisgenoot in samewerking met PEP ’n fotokompetisie van die eerste dag in die “grootskool” gehou. Ouers kon nie wag om met foto’s van hul kleingoed te spog nie.

Altesaam 1 472 inskrywings het vir die kompetisie ingestroom, waarin groot pryse op die spel was. Graadeentjies kon ’n deel van R28 000 vir hulself en hul skool wen.

Nadat 730 116 lesers hul stemme uitgebring het, kan ons nou eindelik die wenners bekendmaak. Die wenner, ’n klein wiskundeliefhebber, gaan haar eersteprysgeld van R5 000 opsysit om aan ’n wiskundekompetisie in Doebai deel te neem.

En die twee naaswenners is boonop niggies wat omtrent onder familielede en vriende gewoeker het om stemme te werf. Dit het duidelik gewerk.

1ste prys

Nicoline du Preez (6), Potchefstroom

Nicoline du Preez (6) van Potchefstroom is die wenner van ons graad­eentjie-kompetisie. Foto: Verskaf

Dié graadeentjie van die Laerskool Mooirivier in Potchefstroom het met 28 814 stemme die eerste prys losgeslaan. Nicoline wen die prysgeld van R5 000, plus nog R2 000 vir haar skool.

Haar ouers, Caroline (32) en Nico (31) du Preez, is opgewonde oor hul oudste dogter se prestasie.

“Ons het nie gedink ons gaan so baie stemme kry nie, maar die familie het almal saamgestaan en toe doen ons dit,” sê Caroline.

“Sy wou elke dag weet hoeveel stemme ons het. Dan moes ek dit vir haar in geldeenhede omskakel, sê nou maar 50 blou geldjies se stemme, want sy kan nog nie lekker verstaan wat 10 000 of 20 000 is nie.”

Nicoline het twee jonger sussies, Joané (4) en Milandri (3). Sy was glo effens tranerig en onseker op haar eerste skooldag, maar nietemin gretig vir die nuwe avontuur.

“Sy was by Mooirivier se Rep en Roer-kleuterskool, en haar klasmaatjies het saam na gr. 1 oorgeskuif. Sy was eintlik baie opgewonde om te gaan.”

Nicoline droom daarvan om eendag ’n dokter te word en woeker reeds om dié droom te verwesenlik. Sy hoop om in September aan die internasionale Gajsma (Global Association of Japanese Soroban & Mental Arithmetic)-wiskundekompetisie in Doebai deel te neem.

Om dit te doen, moet sy eers twee rondes in Roodepoort en Klerksdorp slaag.

“Ons het gedink as ons geldjies kan wen, kan ons dit wegsit, want as sy na Doebai deurdring, moet ons self die duisende vir die vliegkaartjie en ses dae se hotelverblyf opdok.”

DIE NAASWENNERS

2de prys

Kaitlin Joubert (6), Vanderbijlpark

Kaitlin Joubert (6) Foto: Verskaf

Kaitlin van die Laerskool Vaalrivier in Vanderbijlpark stap met R3 000 in kontant weg. Sy het 26 518 stemme gekry. “Ons is baie opgewonde,” sê haar ma, Alicia Joubert (35).

Hoewel Kaitlin op haar eerste dag senuagtig was, het sy nie gehuil nie.

“Ek het vir haar vertel sy moet rustig wees en dat daar ’n nuwe juffrou gaan wees,” sê Alicia. Kaitlin droom daarvan om eendag ’n veearts te word. En met haar prysgeld sal sy lekker bederf word, sê haar ma.

3de prys

Marizaan Swanepoel (6), Heilbron, Vrystaat

Marizaan Swanepoel Foto: Verskaf

Marizaan se ma, Wendy Swanepoel (35), is trots daarop dat haar dogter, wat nou in gr. 1 is aan ’n gesamentlike laer- en hoërskool op Heilbron, R2 000 gewen het.

Sy het 22 208 stemme gekry. Marizaan en Kaitlin, wat tweede plek behaal het, is niggies en het mekaar se vordering tydens die kompetisie fyn dopgehou.

Volgens Wendy kan Marizaan met die wengeld doen wat sy wil. “Sy is die een wat dit gewen het.”

PEP se groot pryswenner wat R10 000 kontant en R6 000 vir sy skool wen, is Sakhile Khoza (5).

Sakhile Khoza Foto: Verskaf

Hy is lukraak gekies uit al die inskrywings wat Huisgenoot en ons sustertydskrifte YOU, Drum en Move! ontvang het.

Hy is in gr. 1 aan die Takheleni Primary School in Matsulu, Mbombela, in Mpumalanga.