Ons bederf graag ons harige vriende en die snoepgoed help jou ’n hegte band met jou troeteldiere smee.

Oorskietkos en die meeste peuselhappies bevat dikwels baie kilojoules en vet. Dit kan tot vetsug lei en gesondheidsrisiko’s meebring – van diabetes, hartsiektes en hoë bloeddruk tot asemnood.

Die oortollige gewig kan ook jou geliefde troeteldiere se gewrigte, bene en ligamente ernstig beskadig en hulle kan artritis ontwikkel. Vet is ’n uitstekende isoleerder en ’n goeie ding as jy ’n rob in die Noordpool is.

Maar as jy ’n oorgewig troeteldier in die Suid-Afrikaanse somerhitte is, kan oortollige vet jou ellendig laat voel. Gelukkig is daar ’n verskeidenheid versnaperinge met heilsame, natuurlike bestanddele.

Beloon gerus jou troeteldier se goeie gedrag daarmee, maar sorg dat dit minder as 5 persent van sy dieet uitmaak. Kies versnaperinge wat sy algehele gesondheid verbeter, soos dié wat tandgesondheid bevorder, pynlike gewrigte streel, vol antioksidante is of met vitamiene verryk is.