Tog het ons die geleentheid om die Paastradisie te eer deur kos wat met liefde voorberei is, met familie te deel. Kom ons hou die blink kant bo en dek ’n tafel vir ’n Paasviering!

Varkvleis is heerlik, veelsydig en bekostigbaar, en met ons maklike resep sal die hele familie  gelukkig en tevrede wees.  

Leer ken opwindende smaakkombinasies: 

Varkvleis is die enigste vleis wat puik kombineer met sout, suur en soet smake. Probeer gerus ’n paar van ons beproefde kombinasies. 

Gebraaide vrugte: Plaas heel vrugte soos klein appels, pere, pruime of vye in ’n braaipan, verf met olie en bestrooi met kaneelsuiker. Braai tot die skille bros en die vrugte sag is. Heerlik by gebraaide tjops. 

Kaas en vark is ook ‘n puik kombinasie.   

Mosterd is ’n klassieke bykos by varkvleis. Meng ’n bietjie heuning en mayonnaise met mosterd en sit dit saam met die vleis voor. 

Kruie soos vars salie, lourierblare en koljander gee wonderlike geur, terwyl speserye soos koyn, koljander, steranys, gemmer, kaneel en kardemom perfek saam met vark is. 

Moenie varkvleis oorgaar maak nie – Dit is gaar wanneer die vleis aan die binnekant net wit word. Vanweë die lae vetinhoud, en omdat die vet aan die buitekant sit, kan varkvleis uitdroog wanneer dit oorgaar gemaak word. 


FEESTELIKE PORTUGESE VARKBOUD

Ons vereenselwig varkvleis meestal met soet smake, maar probeer gerus ’n slag knoffel en sterk kruie soos roosmaryn op ’n varkboud. Geniet dit saam met brosgebraaide aartappels en groenbone, nes die Sondagbraaiboud uit vergange se dae. Al kan ons nie vanjaar Paasfees vier met talle geliefdes wat bymekaarkom nie, is hierdie varkboud beslis geskik om die feestafel soos van ouds mee te gedenk. 

Genoeg vir 4-6 mense | Bereiding: 20 min. | Gaarmaak: 2 uur 20 min.

Bestanddele:

Die helfte van ’n heel varkboud, sowat 2 kg

sout en peper

5 knoffelhuisies, in dun repies gesny

Verfsous

3 takkies roosmaryn, blaartjies gestroop

1 klein ui, fyngekap

30 ml (2 e) olyfolie

growwe sout en vars gemaalde swartpeper

60 ml (¼ k) witwyn

60 ml (¼ k) bruinasyn

4 lourierblare, geskeur

Groente

6 aartappels, in kwarte gesny

1 ui, in skywe gesny

30 ml (2 e) olie

125 g groenbone, stingelent afgesny en afgespoel

30 ml (2 e) Cajun-speserye

Metode

Voorverhit die oond tot 160 °C. 

VLEIS

  • Keep die swoerd van die boud in. Vryf die swoerd in met sout en geur die hele boud met die sout en peper.
  • Maak snye in die ontblote vleisgedeeltes van die boud en stop met die knoffel. 

VERFSOUS

  • Meng die roosmaryn, ui, olyfolie en sout en peper en smeer oor die boud. 
  • Meng die witwyn en asyn en giet oor die boud. Rangskik die lourierblare op die vleis.
  • Plaas die boud in ’n oondbraaipan.

GROENTE

  • Rangskik die aartappels en ui om die boud en verf met die olie. 
  • Oondbraai 20-25 min. per 500 g plus ’n ekstra 25 min. of tot die vleis net wit verkleur, die vleissappe helder uitloop as jy die boud met ’n toetspen toets en die swoerd lekker bros is. 
  • Besprinkel die groenbone met die Cajun-speserye en die oorblywende olie. Voeg diebone by 25 min. voor die boud gaar is. Sit die boud en groente voor saam met rys en slaai.

Sien ons wenke hieronder vir idees met enige oorskietvleis. 

Sny die vleis in dun repe of stroke en sit dit voor op bros rolletjies saam met slaaiblare en mosterd.

Gebruik die repe varkvleis in roerbraairys of by pasta. Trek die varkvleis met twee vurke in dun stukke, meng dit met ’n bietjie mayonnaise en gebruik dit saam met gerasperde wortels en appelskywe as ’n vulsel vir tortillas.

Gebruik dit saam met cheddarkaas en blatjang as ’n vulsel vir toe-, braai- of roosterbroodjies. Gebruik die rafelvarkvleis as ’n vulsel vir ’n omelet of frittata. 

SAPPO
Diagram

DIE BEKOSTIGBAARSTE SNITTE

  • Pootjies

  • Varkboud met been – ekonomiesste en veelsydigste snit

  • Skenkel

  • Skouer/nek – sappigste en sagste snit; kan in steaks gesny word of heel (ook gevul in oond of gepotbraai); beste snit om blokkies vir Oosterse geregte of kebabs uit te sny

  • Kruisstuksteaks (Porterhouse-steaks word ook uit kruis gesny)

  • Ghoelasjblokkies (uit die boud gesny)

  • Roerbraairepies

  • Varkliesrepies (rashers)

  • Maer maalvleis

DUURSTE SNITTE

  • Filet
  • Lendetjops
  • Braairibbetjie (hoewel nie duur per kilogram nie, benodig ’n mens baie per porsie)
  • Ribtjops
  • Varklies (Belly)

WENK: Dikwels word van die beste varksnitte nie in die winkeltoonbank uitgestal nie. Die slaghuispersoneellede sal met graagte vir jou die varksnit van jou keuse uit die regte deel van die karkas sny. Moenie bang wees om dit vooraf te bestel of daarvoor te vra nie; dis altyd die moeite werd.