Het jy al die kuns van quiche maak beproef?

Dis vlokkerig, donsig en heerlik. Dié maklike en smaaklike gereg is in ’n japtrap klaar. Dit is deel van die Franse kookkuns, maar is oral ter wêreld gewild. 

Ons deel ’n vereenvoudigde weergawe soos dit in ons tydskrif Wêreldkos verskyn. 
Beproef dit self. 
 
Quiche Lorraine

Genoeg vir 4-6 mense   

Bereiding: 10 MIN.   

Gaarmaak:6 MIN.   

Bak: Sowat 30 MIN.

Bestanddele

Kors 
1 rol (400 g) bevrore broskorsdeeg, ontvries 
meel vir rol 
droë bone 
Vulsel
30 ml (2 e) olie 
1 pak (250 g) spek, in blokkies gesny 
2 rooi-uie, in skywe gesny 
250 ml (1 k) melk 
125 (½ k) room 
3 eiers 
sout en peper 
’n knippie neutmuskaat 
250 ml (1 k) gerasperde cheddarkaas 
Vir voorsit 
slaai of geroosterde groente

Metode:

  • Voorverhit die oond tot 180 °C en smeer ’n middelslaglosboomtertpan met olie of botter.
  • Kors Rol die ontvriesde deeg uit op ’n plat oppervlak wat met meel bestrooi is tot groot genoeg om die bodem en kante van die pan te vul.
  • Voer die tertpan met die deeg uit en steek gate in die kors.
  • Voer dit met bakpapier uit en vul met die droë bone.
  • Bak 7 min., verwyder die papier en bone en bak nog 3-5 min. tot bruin.
  • Vulsel Verhit die olie en braai die spek tot amper bros.
  • Skep uit die pan en sit eenkant.
  • Braai die uie in dieselfde pan tot sag.
  • Strooi die spek en ui op die bodem van die halfgebakte deeg.
  • Klits die melk, room en eiers in ’n bak tot gemeng.
  • Voeg die sout, peper en neutmuskaat by en roer die helfte van die gerasperde kaas in. 
  • Giet die mengsel oor die deeg, strooi die res van die kaas oor en bak 30 min. tot geset in die middel. 
  • Vir voorsit Sit die quiche louwarm saam met die slaai of geroosterde groente voor. 

Soek jy nog maklike resepte?

Kry jou Wêreldkos-tydskrif nou in die winkels of bestel die tydskrif deur ’n e-pos na koop@huisgenoot.com  te stuur. Jy kan dit ook in die Huisgenootwinkel koop.