Hier is die inspirerende sportvroue wat die weg baan vir vroulike krieketspelers. Teen hierdie tyd ken jy waarskynlik al die manlike Proteas-spelers, maar hierdie vroue verteenwoordig ook Krieket Suid-Afrika (KSA) regoor die wêreld. Hulle is toegewyd, oefen hard en, natuurlik, is hulle uiters talentvol!Hier is ’n vinnige kykie na die span, sodat jy weet vir wie jy skree as jy weer ’n wedstryd kyk of van die Proteas-vrouespan hoor.   

Dané van Niekerk – spankaptein

cricketsa

Dané het ’n ver pad gekom sedert sy in haar grootwordjare in Pretoria saam met haar pa en broer in die agterplaas krieket gespeel het. Toe sy nie aanvaar word om in haar laerskool se span te speel nie omdat sy ’n meisie is, is Dané in ’n ander skool geplaas – een wat haar in die span verwelkom het.

Sy het later vir die Oostelike Provinsie gespeel en is op 16 as kaptein gekies. Sy het haar Protea-debuut in Maart 2009 tydens die Wêreldbekerwedstryd teen die Wes-Indiese Eilande gemaak. “Ek meen as jy goed genoeg is om te speel, dan moet jy toegelaat word,” sê ’n veerkragtige Dané.

Sune Luus – veelsydige speler 

cricketssa

Sune Luus het op agt jaar al in die o.13-span provinsiale krieket gespeel. Die talentvolle, veelsydige speler, wat in Pretoria gebore is, het haar pad na sukses voortgesit en op 12 die o.19-span gehaal. Teen 16 was sy ’n Protea.

In Mei 2017 is sy by Krieket Suid-Afrika se jaarlikse toekenningsgeleentheid as vrouekrieketspeler van die jaar aangewys. Oor die bereiking van doelwitte sê sy: “Stel jou doelwitte en werk daarnatoe. Weet dat jy enigiets kan bereik wat jy wil. Ignoreer stereotipes. Hou van wat jy doen.”

Chloe Tryon – onderkaptein en veelsydige speler

cricketsa

Chloe Tryon, van Scottsborough in KwaZulu-Natal, is die span se onderkaptein en grapmaker. Wanneer sy nie op die veld is nie, laat sy graag mense lag. Sy beskou haarself as die span se DJ en vermaker, en ’n partytjie begin nie sonder haar nie. Sy het ook ’n tersiêre kwalifikasie in afrigtingswetenskap. In haar af tyd geniet sy sokker speel, tennis en branderry.

Chloe is lief vir die see en strand. Sy sê om soos ’n Protea te oefen, moet jy “konsekwent wees, jou daarop instel stel, ’n doelwit stel en daarnatoe werk.”

Tumi Sekhukhune – bouler

Cricketsa

Tumi Sekhukhune is een van die nuutste toevoegings tot die span en word danksy haar lengte “Shorty” genoem. Die klein kragvrou, wat van Daveyton in Ekurhuleni kom, het in September 2018 tydens die reeks teen die Wes-Indiese Eilande haar merk gemaak.

Tumi is gebore om ’n sportster te wees en het voor krieket provinsiale tennis gespeel. Van die veld af geniet sy dit om te lees en te dans. “Ek is ’n leser van filosofie. Ek hou van  goed wat waarde tot my lewe toevoeg. Dis belangrik om ’n positiewe ingesteldheid en pret te hê.”

Ayabonga Khaka – bouler

cricketsa

Krieket Suid-Afrika het voor die 2018-’19-seisoen ’n nasionale kontrak aan die boorling van Middledrift in die Oos-Kaap toegeken. Soos baie van haar spanlede het Ayabonga op ’n jong ouderdom begin krieket speel en was sy die enigste meisie in ’n seunspan.

In Mei 2018 het sy haar 50ste paaltjie in vroue-eendagtoetse tydens die reeks teen Bangladesj gevat. Sy geniet kuier by haar ouma in die Oos-Kaap, televisie kyk en tyd saam met familie deurbring. 

Lizelle Lee – kolwer

cricketsa

Lizelle Lee het haar debuut vir die Suid-Afrikaanse nasionale vrouekrieketspan in 2013 gemaak. Lizelle se talent word wêreldwyd gerespekteer – toe sy vir Engeland se Surrey Stars gespeel het, het sy ’n honderdtal in die eindwedstryd van die 2018 Vrouekrieket-superliga aangeteken en haar span die toernooi help wen.

Die kragkolwer is in Ermelo, Mpumalanga, gebore en is ’n diereliefhebber – sy het twee hondjies, Dino en Benji. Sy is nie tevrede om bloot haar sportvermoë op die krieketveld te toon nie en is ook ’n baie goeie gholf- en hokkiespeler.

Laura Wolvaardt – aanvangskolwer

cricketsa

Die aanvangskolwer Laura Wolvaardt het in 2017 met sewe onderskeidings gematrikuleer en is een van die jongste spanlede.

Op 11 jaar is sy gekies om vir die Westelike Provinsie se o.19-meisiespan te speel. Laura is in 2016 vir die Proteaspan gekies en het in dieselfde jaar die jongste hondertaller, manlik of vroulik, vir Suid-Afrika in internasionale krieket geword. “Ek geniet die proses van beter word.

Dis maklik om gefrustreerd te raak, maar ek druk deur. Dis ook belangrik om gebalanseerd te wees,” sê Laura, wat aanvaar is om aan die Universiteit Stellenbosch medies te studeer. 

Shabnim Ismail – bouler

cricketsa

Die aanvangsbouler Shabnim Ismail word as een van die vinnigste vroueboulers ter wêreld beskou en stuur die bal teen ’n rekordspoed van 128 km/h oor die kolfblad. Sy is in Cravenby in die Wes-Kaap gebore en was nog altyd dol oor krieket.

Haar lewe het verander die dag toe die Wes-Kaapse krieketafriger haar nader en ’n plek in die span aanbied. Haar raad aan jong vroue wat ’n loopbaan as ’n beroepsportmens wil uitkerf, is: “Glo in wat jy wil hê.

Volg jou drome en geniet wat jy doen. Leer jou lesse, verbind jou en tree professioneel op.” 

Hierdie Proteas is alledaagse vroue, #AlwaysRising, wat hul drome probeer bereik in sport wat voorheen deur mans oorheers is. Die #WeAreMore-veldtog wil wys dat hierdie vroue meer as net ’n ma en sportvrou is en het ten doel om hulle bekend te maak onder die publiek. 

Sit gesigte by die name! Kyk na die video hier onder.

Besoek www.cricket.co.za om uit te vind wanneer en waar hulle volgende speel!