Toe Piet, bloot as "oom Pietie" op die Wes-Kaapse dorp Swellendam bekend, 12 jaar gelede aftree, het hy besluit om in sy senior jare te doen waarvan hy die meeste hou: tuinmaak.

As wewenaar wat nie sy eie huis en ruimte het om groente en kruie te kweek nie, het hy die burgemeester vir toestemming genader om ’n tuin te ontwikkel op ’n leë erf by die ingang na die dorp waar hy kamers huur. Hy vertel die burgemeester was maar alte bly om hom toestemming te gee. 

Sy doelwit was om ’n gemeenskapstuin te ontwikkel wat nie net vars produkte vir die buurt sou verskaf nie, maar ook ’n ruimte kon wees waar hulle vir ’n rukkie kon rus en ontspan.

Daarby wou hy mense in die buurt aanmoedig en bystaan om hul eie tuin te ontwikkel en versorg. 

Sy inspirasie, sê hy, was twee “geskenke” wat aan hom gegee is. Die een het sy pa hom gegee. Dié het hom leer plante kweek en aangedring alles moet “perfek” wees. Die ander, sê hy, was ’n Godgegewe liefde vir die grond. Hy het die fyner punte van groente en kruie kweek uit tuintydskrifte geleer. 

Foto: Cathy Hommes van Eeden.

Hy wou hê alles in die tuin moes in volmaakte harmonie met die natuur wees, verduidelik die lewendige 72-jarige. Pleks van chemiese plaagdoders gebruik, het hy kakiebos, gousblomme en koljander om die beddings in die tuin geplant om peste af te weer. Hy pomp water van ’n nabygeleë stroom, want munisipale water bevat chemikalieë, sê hy. Hy maak sy eie kompos gegrond op ’n 3:2:1-mengsel van houtskaafsels, grassnysels en duiwemis wat ’n renduifklub op die dorp by die tuin aflewer. 

“Ek gebruik nie kraalmis nie, want beeste eet onkruid op die velde waar hulle wei,” verduidelik hy. “Ek is bang die oorblyfsels van onkruid in die mis sal onkruidgroei aanmoedig. Ek het nog nooit ’n probleem met onkruid gehad nie.”

Ertjies en boerboontjies groei tussen ander groente om stikstofinhoud in die grond te bevorder. ’n Insek wat sonneblomme besoek, is voordelig vir pampoene daar naby. ’n Groot verskeidenheid groente word heeljaar gekweek. 

Foto: Cathy Hommes van Eeden.

Kruie is volop in oom Pietie se tuin. Hy wys na twee in die besonder: wildeals, wat as ’n anti-inflammatoriese of antiseptiese middel of antidepressant gebruik kan word, en wynruit, wat vir die behandeling van kwale soos bronchitis, verkoue en griep gebruik kan word. Hy wys dikwels vir plaaslike mense hoe om kruie te droog en verwerk om geneesmiddels te maak en skryf sy eie goeie gesondheid daaraan toe dat “ek my eie selfmedikasie uit my organies gekweekte kruie voorskryf”. 

Hy verkoop sy produkte heeljaar uit ’n stalletjie langs die tuin en verskaf ook bessies aan ’n vrou op die dorp wat konfyt kook. Daar is nog ’n stalletjie in die tuin met ’n bordjie waarop “Erfenis” staan. Daar word die artefakte uitgestal wat hy gereeld opgrawe. Dit wissel van perdeskoene en houers tot gereedskap en klippe. Binnelandse en buitelandse toeriste hou dikwels hier stil en baie van hulle word deur ’n artikel op die Facebookblad van ’n plaaslike koerant na die tuin gelok. 

Foto: Cathy Hommes van Eeden.

Vir oom Pietie is die tuin “my happy place” en gaan tuinmaak oor “doen waarvoor jy lief is en lief wees vir wat jy doen”. 

Die tuin het nie ’n heining nie, maar niks is nog daar gesteel nie en dit is nog nooit verniel nie. “Dit is danksy my houding,” verduidelik hy. “Mense noem dit oom Pietie se tuin, maar ek noem dit ons tuin. Mense respekteer die tuin. Jou houding bepaal jou lot.”