Die hoofspeler Stian Bam (40) vertel hy het voor sy rol as Ruan Jordaan nie veel kennis van die bootboubedryf of seiljagvaart gehad nie. “Ek het nog nooit in my lewe geseil nie, maar vir my rol as bestuurder van die Royal Yacht Club in Kaapstad en ’n seiljagvaarder moes ek ’n blitskursus oor seiljagte doen net om die basiese vaardighede en terme te leer,” sê hy.

Stian se karakter Ruan, wat ook in sy jongdae by ’n bootwerf gewerk het, het immers ’n paar jaar gelede die Kaap-na-Rio-seiljagvaart gewen en kon nie soos ’n lomp groentjie op ’n luukse seiljag rondval nie. 

Tydens die verfilming van Waterfront het Stian, wat op Stellenbosch woon, ook die eerste keer die V&A Waterfront in Kaapstad in al sy fasette beter leer ken. “Dis ’n groot voorreg wat ek as akteur het – om wêrelde of plekke wat ek onder normale omstandighede nie sou leer ken nie, te ontdek,” sê hy.

SKERP KONTRASTE 

Dis die eerste keer dat ’n plaaslike reeks teen die agtergrond van die seiljagbedryf afspeel. Waterfront wys nie net die glanswêreld van die rykes, seiljagvaarders, toeriste en sakemanne nie. “Die V&A Waterfront spog met van die duurste eiendomme ter wêreld en daar woon en werk skatrykes, maar in teenstelling is daar ook baie arm mense, soos die werkers in die visfabriek,” vertel Stian. 

Kykers maak kennis met mense uit alle vlakke van die samelewing, van bootbouers soos die nederige Allie (Charlton George), regterhand van die bootbou-magnaat Ben Myburgh (Dawid Minnaar), tot die welgesteldes soos Ben se bedorwe drie dogters – die puntenerige Julia (Milan Murray), die ambisieuse Anna (Rolanda Marais) en die onstabiele en losbandige Kate (Trix Vivier). 

Stian vertel die meeste van die tonele is rondom die Waterfront en die hawe verfilm. Waar daar op die meeste rolprent- of TV-stelle absolute stilte vereis word wanneer die kameras begin rol, was dit hier buite die kwessie. “Almal in die Waterfront moes met hul daaglikse werk en bedrywighede voortgaan terwyl ons verfilm het en dit was baie lawaaierig by die hawe en die seiljagklub. Op ’n manier het dit ons as akteurs gehelp om nog meer deel van die milieu te word.” 

POSISIONERING EN KARAKTER

Waterfront is beslis nie jou gewone wie-het-dit-gedoen-raaiselreeks nie. Met die geheimsinnige dood van Ben Myburgh, wie se lyk op ’n seiljag gevind word, ontvou die hele verhaal soos ’n legkaart. Stian vertel Ruan, wat ’n verhouding met Ben se tweede oudste dogter Anna gehad het, is bietjie die swartskaap van die familie. “Ruan en Anna, wat nou in Londen woon, is om verskeie redes nooit getroud nie.

’n Seun, Stefan (Edwin van der Walt) is wel uit die verhouding gebore,” vertel Stian. Ruan en Stefan het ’n stabiele pa-en-seun verhouding, maar Stefan is ook sy oupa Ben se oogappel. “Net soos die storie word elke karakter en hul verhouding met Ben stuk-vir-stuk bekend. Die grootste uitdaging vir my was om Ruan teenoor die ander karakters te posisioneer en vas te stel waarheen my karakter in die tydlyn op pad is,” voeg Stian by. 

Stian wil nie te veel oor sy karakter uitlap nie, maar hy sê al die los drade en raaisels kom uiteindelik bymekaar. “Kykers sal telkens verras word. Die reeks is pragtig verfilm en baie boeiend.” 

Showmax het meer as 35 000 flieks, reeksepisodes, kinderprogramme en nog baie meer vir jou kykgenot. En hulle voeg byna elke week nuwe inhoud by! Vir meer inligting oor die internetstroomdiens Showmax en al die vermaak wat wag, gaan dadelik na Showmax.com!